Prins Albert Munisipaliteit gaan inspring onder rommel

 


Rommel by Prins Albert se ingang. Foto: Marlene Malan

Rommel by Prins Albert se ingang. Foto: Marlene Malan

Prins Albert se munisipale skoonmaakspan sal eersdaags een keer per week die rommel by Eerstewater verwyder.

Volgens Linda Jaquet, ’n DA-raadslid van Prins Albert Munisipaliteit, het sy die saak onder die aandag van Heinrich Mettler, munisipale bestuurder, en Anneleen Vorster, bestuurder koörporatiewe dienste, gebring.

“Iets moet gedoen word. Die rommel is regtig ’n kopseer,” sê Jaquet.

“Dit affekteer toerisme op ’n negatiewe wyse. Daar is ’n piekniekplek in die Swartberg waar die toeriste kan sit en eet, maar dit is so vuil dat ek maar net moes verby ry,” sê ’n toergids van Oudtshoorn, Dawid van Niekerk.
Melinda Esterhuizen, ’n toerismebeampte by die Prins Albert Toerismeburo, sê sy het Vorster in Desember ingelig oor die toestand by Eerstewater en dat die munisipaliteit toe daar gaan skoonmaak het.

Volgens Vorster behoort die grond aan ’n privaateienaar.
“Dit is nie munisipale grond nie, maar die munisipaliteit verstaan die erns van toerisme in hierdie gebied. Ons span het die grond wel in Desember skoongemaak, maar volgens wetgewing mag die munisipaliteit nie op privaatgrond werk tensy die doel daarvan is om gesondheid en omgewingsrisiko’s te verminder nie.”

Ian Uys, eienaar van die grond by Eerstewater, is baie bly oor die munisipaliteit se besluit.
“Dit is omtrent tyd dat iets daaraan gedoen word. Ek en my span het al voorheen daar skoongemaak, maar ’n mens kan net nie bybly nie. Daardie stuk land is ’n pragtige erfenis en tans word dit bederf deur al die gemors wat daar lê.”

Mettler het by ’n munisipale vergadering verlede Donderdag bevestig dat die Prins Albert Munisipaliteit onderneem om op ’n weeklikse basis die area skoon te maak.

“Daar is dus geen uitkomkans hier nie, aangesien dit ’n onderneming was ten aanskoue van heelwat van Prince Albert se inwoners.” sê Esterhuizen.

Sy het ook besluit om weekliks Eerstewater te inspekteer.

“Ek sal van nou af self weekliks tot by Eerstewater ry om seker te maak dat hiedie probleem behoorlik opgelos word en dat dinge nie weer so ver agteruitgaan nie.”

Volgens van Niekerk is dit lekker om te sien hoe mense Suid-Afrika en spesifiek die Klein Karoo waardeer.

“Die toeriste klap hul hande van blydskap vir die pragtige Klein Karoo en ons moet dit bewaar.”

(Berig deur Ilze-Mari Gründling en Marlene Malan)

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?