So is Preston Titus volgens pleitooreenkoms vermoor

hof-images-3-300x289
DIE vrou van stafsersant Preston Titus wat op 1 Desember verlede jaar in sy slaapkamer op Oudtshoorn vermoor is, Magdaleen Titus, het volgens die pleitooreenkoms van Sixabiso Klip die moord beplan en uitgevoer met die hulp van ’n groepie ander mense.

Klip is Vrydag (19 Januarie) tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis vir sy aandeel in Titus se moord. Hy het sedert Maart 2017 as motorbestuurder vir Magdaleen gewerk.

Magdaleen, ’n ANC-raadslid van Oudtshoorn en en lid van die ANC se provinsiale uitvoerende komitee, en ’n vriendin van haar, Natasha (Tessa) Stuurman kom vandag (Maandag) voor op aanklag van moord en sameswering om moord te pleeg. Hulle is Vrydag in hegtenis geneem.

Na meer as ’n maand se gissings op Oudtshoorn het die bekendmaking van die inhoud van die pleitooreenkoms tydens Klip se verhoor Vrydag gesorg vir ’n dag van hoogdrama.

Die ander mense wat deur die pleitooreenkoms by die moord betrek word, is Juchec Mooi van Port Elizabeth wat reeds in hegtenis geneem is en Vrydag begin het met ’n borgaansoek wat hy vandag voortsit, Stuurman, ’n man bekend as MJ (Mashaimthembe January) van Port Elizabeth wat nog deur die polisie gesoek word, en ’n “onbekende man” wat op 29 November saam met Mooi per taxi uit die Oos-Kaap na Oudtshoorn gereis het.

Volgens die pleitooreenkoms het Klip, Magdaleen en January in November na Port Elizabeth gereis waar hulle Mooi by ’n kerkdiens ontmoet het. Magdaleen het Mooi daar gevra om haar te help om van haar man ontslae te raak en hom R30 000 aangebied.

Die pleitooreenkoms lui voorts:

Magdaleen het ’n verhouding met ’n ander man gehad en het al vroeg in November beplan om haar man te vermoor.

Mooi en ’n “onbekende man” het op 29 November per taxi na Oudtshoorn gereis en is die aand by die begraafplaas afgelaai waar Klip en Magdaleen hulle opgelaai het. Hulle het by Stuurman oorgebly.
Klip het Mooi en die ander man na ’n apteek geneem het om slaappille en pepersproei te koop. Die fyngemaakte pille is aan Magdaleen gegee om in haar man en jongste dogter se kos te sit.

Mooi-hulle het messe gehad, maar Klip het op versoek van Mooi vir hulle ook ’n hamer gekry.

Klip het Stuurman se motor bestuur wat Mooi en die onbekende man op 1 Desember na Titus se huis geneem het. Hy het tydens die moord buite gewag. Dit was die derde keer dat hulle na Titus se huis is om die moord te pleeg. (Een van die kere was Magdaleen weg en het vir hulle die sleutel gelos, maar hulle moes omdraai omdat daar mense buite was. Titus het self by ’n tweede keer uit die huis gekom waarna Klip die twee Oos-Kaapse mans aan hom voorgestel het as “pastore van Port Elizabeth”.)

Daar is gereël dat Magdaleen ’n selfoon, skootrekenaar, tablet en R3 500 in ’n sak langs ’n bank sal neersit wat Mooi en die ander man moet neem sodat die voorval na ’n rooftog sal lyk.

Magdaleen het hulle laat weet dat dit veilig is en hulle by die agterdeur kan inkom.

Na 20 minute het die twee mans teruggekeer na die motor toe.

Hulle het na Mosselbaai gery en langs die pad goed deur die venster weggegooi. (Die aanklaer in die saak, adv John Ryneveld van die kantoor van die Direkteur van Openbare Vervolging – DOV – het later die dag tydens Mooi se borgaansoek daarop gewys dat bebloede klere, ’n hamer en twee messe – een met oënskynlik bloed op – langs die pad gevind is tydens ’n soektog deur die polisie en SANW).
Stuurman het per selfoon aan hulle gesê om na die Gateway Lodge in George te gaan waar Magdaleen vir hulle verblyf vir die nag bespreek het.

• Ryneveld het tydens Mooi se borgaansoek verwys na ’n skulderkenning van Mooi waarin hy bevestig dat hulle gewapen was met twee messe en ’n hamer, en aangedui het dat Magdaleen self vir hulle die agterdeur oopgemaak het. Volgens Mooi het hy nooit die slaapkamer binnegegaan nie en net die sak met die selfoon, skootrekenaar, tablet en geld gevat voordat hy buite gaan wag het.

• Ao Le Roux het op ’n vraag van Ryneveld gesê Titus se dood is volgens die onafhanklike nadoodse ondersoek deur ’n stomp voorwerp en ’n skerp voorwerp veroorsaak, en dat daar baie steekwonde was – onder meer aan sy nek, rug, by sy aorta en linkerlong. (Berig deur Liesel le Roux)

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?