Speelparkie naby SAPD Akademie gee steeds grys hare

So het dit die afgelope naweek in die speelparkie gelyk.

So het dit die afgelope naweek in die speelparkie gelyk.

Deur Liesel le Roux
HY sal dit waardeer as hy inligting kan kry oor wie die mense is wat in die speelparkie naby die SAPD Akademie drink en drankbottels agterlaat sodat hy teen hulle kan optree, sê die bevelvoerder van die Akademie, kol. Ratsela Tala.

Tala het gereageer op ’n navraag van Die Hoorn nadat inwoners wat in die omgewing van die speelparkie op die hoek van Buitekant- en Kortstraat woon die afgelope naweek weer gekla het dat persone wat kursusse by die Akademie loop, in die parkie gedrink het en leë drankbottels en ander rommel agtergelaat het.

“Ons lig studente in wanneer hulle hier kom dat hulle die omgewing moet respekteer en ons vra hulle om nie die parkie te besoek nie. As spesifieke persone by ons gerapporteer word, sal ons kan stappe doen. Ons het egter iets konkreet nodig om teen spesifieke persone op te tree. Dit sal selfs help as ons foto’s van die mense kan kry.”

Tala sê al die studente is polisiebeamptes en weet dat hulle nie in die openbaar mag drink nie.

Hy het die polisie versoek om hom in te lig as hulle bewus is van studente wat die wet oortree en ook die munisipaliteit om munisipale regulasies toe te pas.

Volgens Tala word geen drank binne die Akademie toegelaat nie, maar word daar ook streng opgetree teen lede wat hulle buite die Akademie wangedra.

“As mense vir ons iets konkreet gee, dan kan ons ook optree.”

Tala sê dit is nie goed vir die beeld van die Akademie as mense kla dat lede hul wangedra en mors in die parkie nie.

• Volgens inwoners in die omgewing van die parkie reageer die munisipale wetstoepassers vinnig wanneer hulle na die parkie ontbied word, maar kan die munisipale skoonmakers nie voorbly met die drankbottels en gemors wat in die parkie agtergelaat word nie.

“Mense kan dit nie waag om met hul kinders parkie toe te gaan nie, onder andere oor die glasstukke van drankbottels wat soms daar op die grond bly lê,” sê Raymie Alberts, een van die inwoners.

Alberts het vandeesweek ’n brief geskryf aan Oudtshoorn se speaker, Julia le Roux, se kantoor, en dit ook aan plaaslike koerante gestuur. Die speaker se kantoor het hom reeds in kennis gestel dat sy klagtes dringend verwys word na die departement gemeenskapdienste vir optrede.

Alberts vra in sy brief die hulp van die munisipaliteit om die parkie te beveilig en skryf onder meer:

“Ek wil graag met hierdie brief my misnoë uitspreek oor die toestand van die Middelweg-park, asook die rede hoekom dit so lyk tans. Die hoofoorsaak is dat die polisiekollege se lede, wat kursus loop deur die jaar, die park gebruik om te kom sit en drink. Hulle los al hulle bottels en vullis net daar waar hulle sit en beweeg dan aan terug na die kollege. Dit lyk uiters swak en hou ’n gevaar in vir die gemeenskap.

“Daar lê talle stukkende bottels in die park versprei. Dit sluit in bottelkoppe, glasskerwe asook bottelbodems met skerp glasskerwe. Dit is net ’n kwessie van tyd totdat iemand seerkry, en wie word dan verantwoordelik gehou vir dit?

“Ek het drie dogtertjies, 8, 5 en ’n jaar en 8 maande oud; ek weier om hulle na die parkie te vat omrede die verwikkelinge daar.

Ander lede van die gemeenskap praat ook daaroor. Die kinders kan regtig nie daar speel nie, dit is te gevaarlik.

“Ek vra u mooi om asseblief beter borde in die park op te rig wat stipuleer dat niemand mag drink in ’n openbare park nie en dat dit die munisipaliteit se eiendom is en sodoende onder munispale wette val.”

• Meld enige voorvalle van drankgebruik in munisipale parke by die munisipale beheerkamer aan (044 203 7800). Die beheerkamer is 24 uur van die dag oop.

Inwoners kan ook ’n e-pos stuur aan melissa@oudtmun.gov.za om voorvalle aan te meld of ’n klag in te dien.

• Meld openbare drankgebruik by die Oudts­hoorn Polisie aan. Kapt Louis Visser, woordvoer­der van die Oudts­hoorn Polisie, sê hoewel die munisipaliteit verantwoordelik is om die munisipale regulasies in so ’n parkie toe te pas, mag die polisie ook optree in die geval van openbare drankgebruik.

• Al Oudtshoorn se munisipale parke word weekliks deur die munisipaliteit skoongemaak.
Indien parke tussen die skoonmaakdae bemors word deur besoekers , kan dit ook by die munisipale beheerkamer of by die e-posadres aangemeld word.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?