Oudtshoorn-man kry stywe boete in dronkbestuursaak

Rybewys ses maande opgeskort

Deur Garnett Wicomb
“IEMAND wat onder die invloed van drank is, kan nie ’n voertuig met die nodige behendigheid bestuur nie. Die vonnis moet die beskuldigde sowel as andere afskrik om nie drank te gebruik en dan agter die stuur van ’n motor in te klim nie.”

So het landdros The-olen November in die Oudtshoorn Landdroshof gese toe hy ’n 40-jarige man van Bridgton aan dronkbestuur skuldig bevind en ’n stywe boete opgelê het.

Sy rybewys is ook vir ses maande opgeskort.

Die man is op 29 Oktober 2016 in Voortrekkerweg in Oudtshoorn in hegtenis geneem vir dronkbestuur of alternatiewelik oormatige alkohol in sy bloed.

Sy bloedalkoholvlak was 0,26 gram per 100 milliliter, wat die voorgeskrewe limiet van 0,05 gram per 100 ml oorskry.
Landdros November het die man ’n boete van R12 000 of 12 maande gevangenisstraf opgelê waarvan die helfte vir vyf jaar opgeskort is.

Die landdros het in ag geneem dat die man skuldig gepleit het en daarmee ’n mate van berou getoon het.

“Dit is ’n ernstige misdryf, maar gelukkig was daar nie ’n ongeluk of is enige skade aangerig nie,” het die landdros gesê.

Toestemming is verleen dat die man die boete teen R500 per maand afbetaal na ’n eerste betaling van R1 500.

Van Premchand het vir die staat en Gideon Badenhorst vir die beskuldigde verskyn.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?