Ou begraafplaas nou plek van dwelms, onsedelikheid

Terrein van verval in die middedorp So lyk dit in die  Kerkstraat-begraafplaas in Oudtshoorn. Links bo is een van die gevandalisseerde grafte.  Regs bo stap ’n kind met ’n verdagte wit pakkie in sy hand in die vervalle terrein. Regs is ’n skuiling teen die munisipale stoor met seile en kartondose gebou. Foto’s:   Angelique Erasmus

Terrein van verval in die middedorp
So lyk dit in die Kerkstraat-begraafplaas in Oudtshoorn.
Links bo is een van die gevandalisseerde grafte.
Regs bo stap ’n kind met ’n verdagte wit pakkie in sy hand in die vervalle terrein.
Regs is ’n skuiling teen die munisipale stoor met seile en kartondose gebou.
Foto’s: Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
SOOS inwoners van die omgewing vertel, lê daar gemors oral. Jy weet nie waar om te trap, vat of loop nie.

Die haglike toestand van die begraafplaas in Kerkstraat, Oudtshoorn is kommerwekkend, veral as gevolg van talle ou en geskiedkundige grafte wat in vervalle toestand daar lê.

Ds Tobias Johannes van der Riet, die eerste predikant van die geskiedkundige NG Moedergemeente, se graf is byvoorbeeld in dié begraafplaas.

Die Hoorn het na aanleiding van ’n klagte deur ’n inwoner by die begraafplaas gaan ondersoek instel en gevind dat heelparty grafte gevandaliseer is. Ou ysterheinings om die grafte is afgebreek en waarskynlik vir skroot verkoop.

Rommel lê die plek vol. Oral is ontlasting sigbaar. Onder die bome skuil mense met pakkies  in die hande, volgens mense wat in die omgewing woon en werk waarskynlik dwelms. Almal waar­sku ook dat jy nie daar kan foto’s neem nie, want dit is te gevaarlik.

’n Bejaarde inwoner van Oudtshoorn wat gevra het om anoniem te bly omdat sy vir haar lewe vrees, sê sy woon al 30 jaar in die nabye omge­wing. “Twee jaar gelede het dit begin. Ons is snags wakker gemaak deur ’n gekap tot 03:00 in die oggend. Sowaar, dit was die ystertralie-heining is gesteel en grafstene stukkend gegooi.

Sy sê hul hondjie is verskeie kere met klippe gegooi en uiteindelik vergiftig.

“Daar gebeur ook die lelikste dinge sommer so oop en bloot in die begraafplaas. Dis sonde.”

Volgens die inwoner is sy ook moedeloos omdat die munisipaliteit na drie versoeke van haar net twee van die verskeie peper- en garingbome in die begraafplaas gesnoei het. Volgens haar bied dié bome skuilplek vir die mense wat daar woon.

Bewyse dat mense daar woon, is sigbaar. Op een van die mure agter een van die bome wat gesnoei is, is ’n skuiling van karton en seil gebou. Dit grens aan die munisipale stoor in Kerkstraat. Die res van die mense bly oënskynlik onder die ander bome.

Frans van Antwerpen, eienaar van die Oudts­hoorn Markagentskap wat aan die begraafplaas grens, sê hy het in September 2017 ’n skrywe aan die munisipaliteit gerig om te vra vir die herstel van die sekuriteitsheining om die begraafplaas. Hy het die munisipaliteit daarin ingelig oor die dwelmgebruik op die terrein en dat gebruikers bejaardes daagliks in Kerkstraat teiken.

Hoewel hy ’n ontvangserkenning ontvang het, het hy nooit weer iets van die munisipaliteit gehoor nie, en het hy intussen sy eie besigheid beveilig deur ’n heining op te rig.

“Dit het my R50 000 gekos om net my besigheid te beveilig. Ek en ’n paar ander besighede het aangebied om te help met die onkoste om die gedeeltes wat oop is te beveilig, maar het tot op datum nog geen terugvoer vanaf hulle ontvang nie.

“Hier kom baie mense wat navorsing doen oor hul familiegeskiedenis en wat dan in die begraafplaas wil ingaan. Dis onveilig en ’n verleentheid vir ons dorp dat dit so daar lyk.”

’n Navraag oor die begraafplaas is aan die munisipaliteit gestuur, maar teen druktyd gister is nog geen terugvoer ontvang nie.

Die Oudtshoorn Polisie het wel op ’n navraag van Die Hoorn gereageer. Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder, het die polisie al klagtes ontvang oor mense wat na bewering dwelms in die begraafplaas gebruik.

Log in with your credentials

Forgot your details?