Opwinding vir 10de Relay hier!

HONDERDE inwoners van Oudts­hoorn word Saterdag in die De Jager Sportstadion verwag wanneer die jaarlikse Kansa Relay for Life (RFL) vir die tiende keer op Oudtshoorn plaasvind.

Oudtshoorn was die eerste dorp in Suid-Afrika wat ’n RFL aangebied het.

Dié geskiedkundige geleentheid het in Fe­bruarie 2008 plaasgevind.

Die RFL, met die hoofdoel die insameling van fondse vir Kansa, is ’n vrolike deurnag­geleentheid waartydens spanne 12 ure lank reg rondom die tartanbaan beweeg.

Dit skop Saterdag om 16:00 af en duur tot Sondag om 06:00.

Die RFL skop vanjaar soos gewoonlik af met ’n inspirerende oorwinnaars­ronde waartydens mense wat kanker oorwin het of daarmee leef, om die baan beweeg.

Nadat die son onder is, omstreeks 20:00, sal die aangry­pende kersligseremonie – bekend as die luminariaseremonie – weer plaasvind.

Hiertydens word honder­de kerse in sakkies met foto’s en die name van kanker-oorwinnaars en -lyers om die baan uitgepak. Tydens hierdie gewyde seremonie word diegene wat aan kanker gesterf het, diegene wat daarteen veg en diegene wat dit oorwin het, gedenk.

Daar sal deur die aand heelwat vermaak wees met stalletjies wat eetgoed sal verkoop.
Inwoners wat die RFL wil bywoon, kan dit van 18:00 tot 22:00 bywoon teen ’n toegangsfooi van R40 of van 18:00 tot 06:00 die volgende oggend teen ’n toegangsfooi van R70.

Spanne kan steeds registreer.

Skakel 044 272 0039 vir enige navrae oor die RFL of stuur ’n e-pos na rflspanne@gmail.com.

Log in with your credentials

Forgot your details?