Opwindend om deel van Klein Karoo Agri te wees!

André Vivier, nuwe handelstakbestuurder van Klein Karoo Agri.

André Vivier, nuwe handelstakbestuurder van Klein Karoo Agri.

Klein Karoo Agri op Oudtshoorn is ’n “dinamiese besigheid met dinamiese kliënte” en dit is vir hom lekker om deel daarvan te wees, sê André Vivier, nuwe handelstakbestuurder.

“Dit is opwindende tye hier by ons met die planne waarmee ons besig is, soos die Mica Hardware-afdeling wat deel van Klein Karoo Agri se Oudts­hoorntak gaan vorm,” het hy gesê.

Dit gaan beteken dat ’n wyer verskeidenheid hardewareprodukte en boumateriaal vir kliënte beskikbaar gaan wees.

Daar is ook planne om die vulstasie op te gradeer.

“Vir Klein Karoo Agri op Oudtshoorn is dit belangrik om te vernuwe tot voordeel van ons boere en al ons ander kliënte.

“Met Mica deel van ons besigheid sal ons ook ’n beter bedingingsvermoë by verskaffers hê met daarmee gepaardgaande prysvoordele vir ons kliënte.”

Vivier sê as daar nog lede van die algemene publiek is wat onder die indruk is dat Klein Karoo Agri net vir die boere is, wil hy dit graag regstel.

“Ons het ’n wye verskieidenheid alledaagse gebruik- en verbruiksartikels waarin die publiek belangstel, soos klere en skoene, kampeertoerusting, kombuisbenodigdhede, tuinboubenodigdhede en nog vele meer.

“Ons pryse is boonop baie mededingend. Ons nooi almal om gerus te kom kyk.”

Volgens Vivier was hy nog altyd gelukkig om by suksesvolle ondernemings te werk en voel hy baie positief oor die dinamiese omgewing waarin hy hom nou bevind.

• Vivier is op Heidelberg in die Suid-Kaap gebore en het as kind op verskeie dorpe gewoon, insluitende Malmesbury, Queen’s Town, Margate en Bonnievale, waar hy gematrikuleer het.

Ná skool het Vivier die graad BCom Honneurs aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf.

Sy eerste werk was by die Villiersdorp Koöperasie waar hy van 1993 tot 2008 op Villiersdorp waar hy die eerste vier jaar handelsassistant was, en die laaste sewe jaar takbestuurder by Vyeboom wat hoofsaaklik pakmateriaal verskaf het.

In Desember 2008 het hy by Die Koöperasie op Humansdorp aangesluit waar hy gevorder het tot handelsbestuurder vir die noordelike streek, wat Cradock, Fort Beaufort en Golden Valley insluit. Hy het toe op Somerset-Oos gewoon.

Volgens Vivier is die Oos-Kaap, hoewel plek-plek vervalle, ’n mooi omgewing met pragtige natuurskoon. “Ek het lekker daar gewoon. Die mense is gaaf en het tyd vir mekaar.”

Vivier sê hy is “mal” oor Oudtshoorn en voel reeds tuis op die dorp.

“Die dorp ’n pragtige argitektoniese erfenis. Ek stel baie daarin belang en sal graag by Oudtshoorn se este-tiese komitee betrokke wil raak.”

Viviers is ook lief vir bergfietsry om uit te kom in die mooi natuurlike omgewing.

“Ek verkies egter om op die agterlangse paaie te ry,” sê hy.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?