Ooglede deur adder verlam

Regs: Jason Tiemmie (29), ’n werknemer van Cape­Nature, vandeesweek in sy hospitaalbed in die Oudtshoorn Hospitaal. Tiemmie slaap nie, maar kan tans nie sy oë oop­- maak nie as gevolg van die uitwerking van die gif van ’n bergadder wat hom gepik het.                               Foto: Liesel le Roux

Bo: Jason Tiemmie (29), ’n werknemer van Cape­Nature, vandeesweek in sy hospitaalbed in die Oudtshoorn Hospitaal. Tiemmie slaap nie, maar kan tans nie sy oë oop­- maak nie as gevolg van die uitwerking van die gif van ’n bergadder wat hom gepik het. Foto: Liesel le Roux

Links: ’n Bergadder, soortgelyk aan die een wat vir Jason Tiemmie gepik het.      Foto: Dr Tony Phelps

Bo: ’n Bergadder, soortgelyk aan die een wat vir Jason Tiemmie gepik het. Foto: Dr Tony Phelps

Deur Liesel le Roux
’N WERKNEMER van CapeNature op Oudts­hoorn, Jason Tiemmie (29), sterk tans in die Oudts­­hoorn Hospitaal aan nadat hy verlede Vry­dag in die Swartberge deur ’n bergadder gepik is.

Tiemmie het Dinsdag vanuit sy hospitaalbed vertel dat hy besig was om die terrein by ’n hut by die Ou Tol skoon te maak en gate na verlede week se reën toe te gooi toe die bergadder hom aan die linkerduim gebyt het. Die Ou Tol is naby die top van die Swartbergpas aan die Prins Albert-kant van die Swartberge.

“Die bergadder is eintlik aktief in die nag. Hy het geen beweging of geluid gemaak wat my ge­waarsku het nie.

“Ek het hom nie gesien nie, maar toe ek aan ’n klip vat, het hy gestrike. Gelukkig het net een tand my duim getref.”

Tiemmie se toesighouer, Samson Damons, het hom die sowat 50 km na die Oudtshoorn Hospitaal geneem waar hy in die noodeenheid behandel en daarna in die hospitaal vir waarneming opgeneem is.
Die verlammende uitwerking van die gif op sy ooglede het hy eers ’n paar ure na die slangbyt begin ervaar, vertel Tiemmie. Hy kan glad nie sy oë oopmaak nie, behalwe as hy sy hande sou gebruik om sy ooglede te lig. Hy sê hy sluk ook swaar.

Volgens dr Milton Groenewald wat Tiemmie behandel, is die bergadder se gif beide neurotoksies en sitotoksies – dit tas dus die senuweestelsel aan en kan ook weefselskade veroorsaak. Daar is nie ’n teengif teen die byt van dié slang nie.

“Die gif verlam sy ooglede en veroorsaak ook dubbelvisie. Maar dit verbeter elke dag,” sê Groenewald.
Hy sê hy kan nie voorspel hoe lank Tiemmie in die hospitaal sal moet bly nie, omdat die uitwer­king van die gif nie voorspelbaar is nie.

Volgens hom is die belangrikste ding by die behandeling van ’n slangbyt om seker te maak watter soort slang iemand gebyt het aangesien die behandeling van slang tot slang verskil.
“Mense kan help deur ’n foto van ’n slang wat iemand gebyt het, te neem. Dan sal die dokter weet hoe om iemand te behandel.”

Hy sê wanneer iemand op die hand of voet gebyt word, kan dit ook help as ’n toerniket net bo die bytplek om die arm of been gedraai word om bloedvloei en so die verspreiding van die gif te verminder.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?