‘Ons wil seker maak dat Josh se lewe betekenis het’

Die familie van Josh James Pharaoh bid saam teen die draad buite die SANW-uitstalling by die KKNK. Foto: Liesel le Roux

Die familie van Josh James Pharaoh bid saam teen die draad buite die SANW-uitstalling by die KKNK. Foto: Liesel le Roux

FAMILIELEDE van Josh James Pharaoh (9), wat verlede jaar tydens die KKNK gesterf het, het Donderdag op die eerste dag van die fees vanjaar ‘n vreedsame protesoptog op die hoek van Baron van Reedestraat en Voortrekkerweg gehou, en daarna met plakkate tot by die SANW-uitstalling by die Kuierbuurt gestap.

Hulle soek steeds antwoorde oor hoe Josh op 14 April 2017 in ‘n pantservoertuig by die SANW-uitstalling beseer is, het sy oupa, dr Hamilton Pharaoh, in ‘n protesverklaring wat hy voorgelees het, gesê. Volgens hom is die familie op sosiale media en elders verwyt dat Josh sonder toesig was toe hy beseer is; iets wat volgens hom onwaar is.

“Vandag hoop ons dat daar net so duidelik berig sal word dat Josh ‘n gehoorsame, dierbare
en liefdevolle seun was wat die grootste onreg aangedoen was deurdat hy sy lewe verloor
het. Dat hy met toestemming in die pantserwa geklim met ‘n offisier van die weermag wat
saam met hom ingeklim het. Toe hy dus beseer geraak het was hy nie alleen in die
pantserwa was. Ons wil dit onomwonde stel dat ons nie sal rus totdat Josh en ons as familie
se naam in ere herstel word en aan ons verduidelik is hoe ons geliefde Josh beseer is nie,” lui die protesverklaring onder meer.

Pharaoh het ook gesê hulle is van mening dat dit feit dat die SANW verlede jaar voortgegaan het met hul uitstalling na Josh se besering en dood dui op ‘n gebrek aan sensitiwiteit, respek en eerbied vir wat op 14 April gebeur het.

Die hekke van die SANW-uitstalling, wat vroeër die oggend oop was vir besoekers, was gesluit toe die groep daar opdaag en hulle moes hul plakkate teen die draad plaas en ook ‘n gesamentlike gebed buite die heining van die uitstalling hou.

Dr Hamilton Pharaoh lees 'n verklaring van die familie voor. Foto's: Liesel le Roux

Dr Hamilton Pharaoh lees ‘n verklaring van die familie voor. Foto’s: Liesel le Roux


Die volledige protesverklaring namens die Pharaoh- en Cedras-familie lui soos volg:

Goeiedag aan almal hier teenwoodig vandag. Gun my die geleentheid om een en elkeen te bedank wat besluit het om saam met ons, as familie hier byeen te kom om hulde te bring aan ons geliefde Josh James Pharaoh. Josh is op 14 April 2017 tydens die KKNK beseer na ‘n besoek aan die uitstalling van die SANDF en het tragies aan sy beserings gesterf op 16 April 2017. Baie dankie vir die ondersteuning deur die burgemeester van Oudtshoorn, mnr Colan Sylvester, die breë gemeenskap van Oudtshoorn asook die KKNK wat ons dadelik by Klein Karoo MediClinic kom ondersteun het. Dit word opreg waardeer. Ons opregte dank aan al die gemeenskappe, insluitend ons dorp Paarl vir die ongelooflike ondersteuning aan ons as familie.

Indien Josh hier sou wees vandag sou hy heelwaarskynlik gevra het of hy ‘n spreekbeurt
kon kry. Hy was die mees voorbeeldige, goedgemanierde en bedagsame seuntjie wat baie
net van kon droom. Almal wat die geleentheid gehad het om tyd met hom te spandeer sal u
dadelik vertel van hoe mooi hy Afrikaans gepraat het en hoe hy nooit enigiets sou doen wat
hy nie toestemming voor gekry het nie.

My naam is Hamilton Pharaoh en ek was geseënd om Josh my kleinseun te noem. Ek en
my vrou Heidi (sy ouma) het Josh saam met ons vir die Paasnaweek gebring na Oudtshoorn
om met familie te spandeer. Min sou ons weet dat ons lewe onherroeplik sou verander en
dat ons as ouers van Nicole en Ryno Cedras (Josh se ouers) hulle sou moes meedeel dat
hul seuntjie ernstig beseer geraak het by die KKNK en dat hul dringend op 14 April 2017 vir
ons in Mosselbaai by die Bayview-privaathospitaal moet kom kry waar Josh opgeneem sou
word. Hulle as ouers moes toe die ergste trauma ooit deurgaan en hul seuntjie groet op die
16de April. Ons as grootouers moes aan ons kinders vra om hul seuntjie vry te maak van die
lewe en hom sê: “Dis ok, ons wil nie hê jy moet verder ly nie”. Geen ouer of grootouers moet
ooit dit deurmaak nie. Geen familie moet ooit weer in die posisie wees waarin ons vir die res van ons lewe sal wees nie. Ons leer nou om tevrede te wees met ons nuwe normaal en die wete dat
ons dag en lewe nooit weer vol sal wees nie.

Josh, ons engelkind, is op ‘n traumatiese wyse van ons weggeneem en ons is vandag hier
om seker te maak dat Josh en sy lewe betekenis het. Dat dit wat met Josh gebeur het nie
net ‘n insident word wat vergete raak in die statistieke van tragiese gebeurtenisse nie.

1. Ons is verlede jaar genader oor kommentaar toe die SANW voortgegaan het met
hul uitstalling na Josh se besering en sterfte. Vandag wil ons dit duidelik stel dat die
gebrek aan sensitiwiteit, respek en eerbied deur voort te gaan, geen woorde verder nodig het nie. Josh het sy lewe verloor. Sy lewe het betekenis en elke kind in ons
land se lewe het betekenis. Dit is dus ons as familie se taak om seker te maak dat
ons veg om seker te maak dat Josh se lewe en sy sterfte betekenis het. Deur dus
verder weer ‘n uitstalling te hê wanneer daar geen uitklaring is van wat op die 14de
April 2017 gebeur het nie, wys verder `n gebrek aan sensitwiteit asook absolute
miskenning van die pyn van ons as familie.

2. Verder wil ons as familie ons absolute misnoeë uitspreek teenoor diegene wat wou
verhoed dat ons hierdie optog hou om Josh se lewe te vier en om sy naam in ere te
herstel. Die feit dat ons laat voel is asof ons verskoning moet vra dat Josh sy lewe
verloor het en dat deur ‘n optog aan te vra dit eintlik ‘n inconvenience is vir
sommiges, is absoluut onaanvaarbaar. Ons kan u belowe #Justice4Josh sal
plaasvind.

3. Na die traumatiese gebeurtenis is daar sekere verklarings van die SANW in die
media gepubliseer. Ek gaan van die verklarings aan u nou voorhou:

Spokesperson for the South African National Defence Force (SANDF), Brigadier-General
Mafi Mgobozi, told Netwerk24 that a full report of the incident had not been compiled yet. He
said that the three officers responsible for the vehicle had been busy with other visitors when
Joshua had climbed into the vehicle. “We don’t know exactly what happened. At this
moment, all that we know is that there were three officers on duty who were busy with
visitors when the boy fell,” Mgobozi said. He confirmed that all visitors had to be
accompanied by one of the officers at all times while in the vehicle.

Laat ek die eerste regstelling maak. Josh is nie ‘n afkorting vir Joshua nie. Hy is gedoop as Josh
James Pharaoh.

Verder wil ek u aandag vestig op wat die verklaring deur die SANW impliseer:
1) Dat Josh sonder volwasse toesig was en dat ons hom as sy grootouers as 9-jarige
sodanig alleen gelos het
2) Dit impliseer ook dat Josh stout was en sonder toestemming en op sy eie in die
pantserwa beland het. Ons as familie staan vandag voor u en wil onomwonde verklaar dat Josh nooit sonder volwasse toesig was toe hy na die KKNK gekom het op die 14de April 2017 nie. Dat hy vir geen oomblik tydens sy besoek sonder volwasse toesig was nie.

As familie moes ons verduur dat “memes” van ‘n ondeunde seuntjie op websites en
facebook van sommige media outlets voorkom en ‘n bespotting maak van `n seuntjie wat
gesterf het.

Ons moes in media sien hoe mense anoniem sou uitdruk die feit dat: Hoekom word die
SANW geblameer en waar was die ouers.

Vandag hoop ons dat daar net so duidelik berig sal word dat Josh ‘n gehoorsame, dierbare
en liefdevolle seun was wat die grootste onreg aangedoen was deurdat hy sy lewe verloor
het. Dat hy met toestemming in die pantserwa geklim met ‘n offisier van die weermag wat
saam met hom ingeklim het. Toe hy DUS beseer geraak het WAS hy nie alleen in die
pantserwa was. Ons wil dit onomwonde stel dat ons nie sal rus totdat Josh en ons as familie
se naam in ere herstel word en aan ons verduidelik is hoe ons geliefde Josh beseer is nie.

Ons wil versoek dat besoekers aan die KKNK 2018 elke dag tydens die kunstefees ‘n
blommetjie, kaartjie of gebed te doen om saam met ons Josh se lewe te vier. Kom ons
gebruik sosiale media positief en pos u besoek aan die KKNK onder #justice4josh.

Deur God se genade kan ons as familie nog staande bly en deur Josh se lewe weet ons dat God
ons so lief het dat Josh aan ons geleen was vir 9 wonderlike jare. Daar is geen woorde om
die leemte in ons lewens te beskryf nie.

JOSH you lived your life through Hope, Faith and Love. Rus in vrede ons liefste seuntjie!

* ‘n Verteenwoordiger van die SANW wat teenwoordig was by die protesoptrede, het op navraag van Die Hoorn gesêbdat hulle nie gemagtig is om te mag reageer op die oggend se gebeure nie.

Log in with your credentials

Forgot your details?