Ons kinders wat op straat bly

redakteursbrief

Die kind hardloop heen en weer oor Baron van Reedestraat – sy verwarde oë en dowwe vel en benerige lyf in die gestreepte broek smeek. Hy vra geld vir brood by inwoners en toeriste wat hul motors parkeer, hy probeer bedel oor die muur by klante van Karoopot.

Hy is deel van ’n daaglikse klaarblyklik onoplosbare probleem in Oudts­hoorn se toeristestrate: kinders wat besoekers en inwoners lastig val en selfs intimideer en besteel.

Ek skat die kind op 10 of 11 of 12, maar weet dat die kinders op straat dikwels veel ouer is as wat hulle lyk; in baie gevalle die gevolg van jare se wanvoeding.

En soos altyd wanneer ek dié kinders sien, breek my hart.

Ek sê vir hom dat hy nie op straat mag geld vra nie, en eerder huis toe moet gaan (volgens diegene wat met mense op straat werk, het bykans almal wel ’n huis of familielede).

Hy luister nie klaar nie, of hoor nie, my woorde wind verby sy ore.

Die kind en die baie ander soos hy vertel iets van ’n gemeenskap waarvan almal wat op Oudtshoorn woon, deel is. ’n Gemeenskap wat deur elemente soos burokrasie, die beperking van sekere wetgewing, armoede, maat­skaplike ellende, drank- en dwelmmisbruik en onbetrokkenheid verlam word. ’n Gemeenskap – soos baie ander in die land – wat nie kan omsien nie na van sy kinders nie.

Sestien jaar lank woon ek op Oudtshoorn, sestien jaar lank al word ge­praat en gepraat en gepraat oor kinders op straat – by forums, vergaderings, ens, ens. Soms word iets beter, maar uiteindelik word die probleem eerder groter as kleiner.

Famsa wat bereid is om ’n dagskuiling en kos vir kinders te bied, moet veg om fondse en leefbare fasiliteite en teen inbrake by sy geriewe.

En dan is daar diegene wat ’n kortsigtige salfie op dié wond wil smeer deur geld en kos op straat aan die kinders te gee en daardeur die probleem vererger en hulle so aanmoedig om op straat te bly. Boonop word die geld dikwels vir dwelms van die een of ander aard aangewend, of moet die kinders dit vir ’n ouer kind gee om hulself veilig te hou.

Daar is aan die ander kant ook talle mense wat die kinders vloek en skel en slaan en so die probleem ook vererger.

Tans is daar net enkele ligpunte in die poging om ons kinders van die strate af te hou – daar is die mense van Famsa op Oudtshoorn se bereidheid tot betrokkenheid; daar is die ongelooflike werk wat die St Luigi Scrosoppi Sorgsentrum in Bridgton doen om kinders smiddags te onder­-steun en hulle so ’n toevlugsoord buite die strate bied; daar is ander projekte wat ook kinders smiddags ’n toevlug gee; en dan is daar die praktiese brood­jieprojek van Oudtshoorn-Wes Handelshuis/Camp Roadhouse wat vir elke inwoner die geleentheid bied om ’n bydrae te lewer vir die wat honger is. Vir elke R5 wat iemand ekstra by hulle vir ’n brood betaal, word ’n brood aan organisasies soos Famsa en die Oudtshoorn Rotariërs of Vryburgers geskenk wat dit dan versprei aan diegene wat honger ly. Dié projek is ’n inisiatief van die eienaars van dié besighede om diegene wat strate toe kom omdat hulle honger is, te voed.

Dié projek bied aan inwoners ’n positiewe manier om betrokke te raak.

Oudtshoorn mag nie moed opgee met sy kinders wat strate toe gaan en kies om daar te woon en dan dikwels by misdaad betrokke raak nie. Ons mag nie opgee op die kinders met die verwarde oë nie. Daar is elders in Suid-Afrika suksesverhale. Kom ons hoop Oudts­hoorn s’n begin in 2017.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?