‘Ons het niks nie,’ vertel pa

Nathan Oktober (39) en sy dogter, Mentolene Goliath (7), wat Maandag weer terug is skool toe nadat sy weke lank in die Rooi Kruis Hospitaal vir brandwonde behandel is.  Foto: Ilze-Mari Gründling

Nathan Oktober (39) en sy dogter, Mentolene Goliath (7), wat Maandag weer terug is skool toe nadat sy weke lank in die Rooi Kruis Hospitaal vir brandwonde behandel is. Foto: Ilze-Mari Gründling

Deur Ilze-Mari Gründling
DIE gesin van Bongulethu wat hul plakkershut op 1 Maart in ’n brand verloor het, het letterlik bykans niks oor nie.

“Ons moet van voor af begin,” sê Nathan Oktober (39) toe Die Hoorn hom vandeesweek gaan besoek het en hy die erfie wys waarop hul plakkershut gestaan het. Op die erf waar die swart as van die brand steeds in die een hoek sigbaar is, staan nou ’n klein sinkplaathokkie van drie meter by drie meter, gebou met sinkplate wat die munisipaliteit vir die gesin geskenk het. Dit en die klere aan hul lywe is al wat hulle tans besit.

Oktober en sy dogter, Mentolene (7) woon tans by Oktober se suster, Natasha Oktober, en haar man, Johannes Pietersen in Lungastraat, Bongolethu. Sy vrou, Mina Goliath, woon tans by familie in Smartietown.

Oktober is in April uit die Tygerberg Hospitaal ontslaan waar hy verskeie veloorplantings moes kry en Mentolene is ook intussen uit die Rooi Kruis Hospitaal in Kaapstad ontslaan waar sy etlike weke vir erge brandwonde behandel is. Sy het Maandag weer begin skoolgaan by Bergsig Primêr.

“Ek, my vrou en my kind is regtig in die nood en wil vra of daar mense is wat ons sal help om weer te begin,” vra Oktober. Hy ly aan epilepsie en het vandeesweek begin met fisio­terapie om hom te help om na talle veloorplantings weer sy hande behoorlik te kan gebruik.

Die gesin het geen meubels, kombuisware of klere oor na die brand nie. Hulle benodig veral ’n bed en bedde­goed, ’n stofie en kom­buisware soos eetgerei en potte. En hulle hoop iemand sal hul help met nog ’n paar sinkplate en pale om hul blyplek meer leefbaar te maak dié winter.

Hy vertel dat hulle ook ’n yskas, wasmasjien en TV gehad het wat alles uitgebrand het.
Volgens Oktober het sy gesin al ’n kospakkie van ’n weldoener ontvang, waarvoor hulle baie dankbaar is. Dié goedheid laat hom hoop dat meer mense hulle oor die gesin sal ontferm.

• Vir skenkings of donasies, kontak Hester Grint by 084 811 1936. Skenkings kan ook by Die Hoorn afgegee word.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?