Noue ontkoming vir hegte groep vriende

’n Selfoonfoto van die motor soos dit onder die padreling tot stilstand gekom het. Foto verskaf

’n Selfoonfoto van die motor soos dit onder die padreling tot stilstand gekom het.
Foto verskaf

Deur Ilze-Mari Gründling
VYF vriende van Calitzdorp en Oudtshoorn het ’n noue ontkoming gehad toe die Volkswagen Golf waarmee hulle gery het, op die Tradouwpas naby Barrydale die pad verlaat het, maar gestop is deur ’n reling langs die pad.

Colleen Murphy van Calitzdorp vertel dat sy en vyf vriende op Saterdag, 1 Julie, op pad terug was vanaf Kaapstad toe die ongeluk gebeur het.

“Dit was so net na een die oggend. Die pad was doodstil. Die een oomblik het ons Barrydale se ligte voor ons gesien; die volgende oomblik was daar ’n harde slag en glas wat orals spat.”

Na bewering het die bestuurder van die motor moeg geword en by die Tradouwpas-afdraai beheer oor die voertuig verloor.

Volgens Murphy het die motor onder die reling langs die pad beland en het dit deur vier stutpale van die reling gebreek voordat dit teen die vyfde een tot stilstand gekom het. Die reling self is deur die motor se dak en het dit opgelig tot by die bagasiebak.

“Ons is baie dankbaar vir daardie reling; anders was die motor by die afgrond af. Ons kon darem by die deure uit klim en die ambulans en polisie was vinnig op die toneel,” sê Murphy.

Volgens haar is diegene in die groep met die ergste beserings eerste na die Swellendam Hospitaal geneem, waarna die res van die groep met ’n tweede ambulans daarheen vervoer is. Van daar is die groep na die Worcester Hospitaal en toe na die Mediclinic Klein Karoo op Oudts­hoorn geneem.

Die bestuurder, Mundo Jansen, het sy arm gebreek en is steeds in die hospitaal.

Kevin en Michelle Claassen, ’n broer en suster, het gesigsbeserings opgedoen.

Kevin is aan die linkerkant uit die kar gegooi tydens die ongeluk, terwyl Michelle wat agter in die middel geslaap het, deur een van die reling se houtpale aan die regterkant van haar gesig getref is.

Kevin se sewejarige dogtertjie was ook in die voertuig en is per ambulans na die Rooi Kruis Hospitaal in Kaapstad geneem vir behandeling. Sy sterk tans tuis aan.

Murphy en haar suster Bonita het met blou kolle, seer lywe en skok uit die motor geklim.
Murphy vertel dat sy en Michelle die vorige Vrydag op Oudtshoorn was en Michelle vir haar ’n goedkoop selfoon gegee het.

“Sy kon nie onthou wat sy met die selfoon gedoen het nie. Toe ons bykom na die ongeluk, kon ons niemand se selfone kry nie. My selfoon se lig het gebrand, maar die skerm was stukkend. En toe vind ek hierdie klein, goedkoop selfoon in die motor – met die wêreld se lugtyd op sodat ek almal kon bel!”

Sy sê die polisie en ambulanspersoneel was baie flink en behulpsaam.

“Alles voel nog soos uit ’n rolprent en slaap kom maar moeilik, maar ons is almal hegte vriende en het net weer eens besef hoe gelukkig ons was om ten spyte van die beserings en trauma lewendig uit die ongeluk te kom.”

Sy sê niemand kan blameer word vir die ongeluk nie.

“Almal was moeg. Ons sou na Barrydale gestop het om bestuurders te ruil. Dit kan met enigiemand gebeur. Ons neem niemand kwalik nie.”

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?