Noue ontkoming toe kragdraad op dak val

Bo: Bea Strydom (7) en haar ouers, Piet en Delaine kon gister weer glimlag na haar noue ontkoming verlede Donderdag. Bea is graad 1 in die Laerskool Wesbank.  Foto: Schalk le Roux  Regs: Bea verlede week in die Mediclinic Oudts­hoorn nadat sy ’n ernstige elektriese skok opgedoen het.                    Foto verskaf

Bo: Bea Strydom (7) en haar ouers, Piet en Delaine kon gister weer glimlag na haar noue ontkoming verlede Donderdag. Bea is graad 1 in die Laerskool Wesbank. Foto: Schalk le Roux
Regs: Bea verlede week in die Mediclinic Oudts­hoorn nadat sy ’n ernstige elektriese skok opgedoen het. Foto verskaf

Bea sien 14 engele Bea (foto bo) het na die voorval aan haar ouers vertel sy het gevoel hoe die elektrisiteit deur haar liggaam gaan en hoe sy val. Sy onthou dit was baie donker en sy het gevoel sy gaan dood. Maar toe het sy Jesus gesien wat langs haar staan en Sy hand op haar bors sit. Sy het ook 14 engele gesien; en twee van hulle het deur die venster gekom, het sy gesê.

Bea sien 14 engele
Bea (foto bo) het na die voorval aan haar ouers vertel sy het gevoel hoe die elektrisiteit deur haar liggaam gaan en hoe sy val. Sy onthou dit was baie donker en sy het gevoel sy gaan dood. Maar toe het sy Jesus gesien wat langs haar staan en Sy hand op haar bors sit. Sy het ook 14 engele gesien; en twee van hulle het deur die venster gekom, het sy gesê.

Deur Liesel le Roux
DIE 7-jarige Bea Strydom, dogter van Piet en Delaine Strydo van Oudtshoorn, het verlede Donderdag ternouernood aan die dood ontkom toe sy ’n ernstige elektriese skok opgedoen het.

“God se genade is groot,” was Delaine se eerste reaksie toe Die Hoorn die Strydoms vandeesweek by hul huis in Mellvillestraat, Oudtshoorn, besoek het.

Delaine vertel Bea wou verlede Donderdagmiddag ’n buitekraan by hul huis toedraai nadat ’n emmer water onder die kraan begin oorloop het. Die oomblik toe sy met haar kaal voete in die water langs die emmer trap en aan die kraan vat, het die elektriese stroom haar getref en het ’n elektriese stroom van 220 volt haar liggaam geruk.

Hulle het agterna vasgestel dat ’n munisipale kragdraad afgebreek en op hul huis se sinkdak geval het. Dit het die huis se dak en al die waterpype en krane van die huis geëlektrifiseer.

Toe Bea die kraan toedraai en met haar kaal voete in die water langs die emmer trap het haar liggaam die elektriese stroom van haar hand tot in die water op die grond gelei.

Delaine, wat binne die huis was, sê sy het Bea hoor gil. “Ek het teruggeroep om te hoor wat aangaan. Toe ek niks weer van haar hoor nie, het ek uitgehardloop en Bea oënskynlik leweloos in die water langs die kraan gesien lê.

“Toe ek haar optel, het ek ook ’n elektriese skok opgedoen, maar met die hulp van engele het ek haar weggetrek,” vertel sy.

Delaine, wat ’n lewensreddingkursus op skool gedoen het, het dadelik mond-tot-mond-asemha­ling op Bea begin toepas.

Haar buurvrou, Clarise Andries, wat Bea ook gehoor gil en gaan kyk het, het intussen ’n ambulans ontbied wat baie gou op die toneel was en Bea hospitaal toe kon neem. Sy is Vrydag uit die hospitaal ontslaan.

Bettie Bezuidenhout van die Ambu 911 het vandeesweek ge­sê toe hulle personeel op die toneel kom, het Bea reeds haar bewussyn herwin. Volgens hulle het Delaine reg opgetree deur dadelik mond-tot-mond-asemhaling te begin toepas.

Die enigste sigbare nagevolge wat Bea van die voorval oorgehou het, is dat haar sintuie tans baie sensitief is. Haar ouers vertel dat sy by tye sensitief is vir klanke en reuke. Gister het sy ook koud gekry en het ’n kombersie om haar skouers haar warm gehou.

• Volgens Piet het ’n elektrisiën wat hy ná die voorval ontbied het, aan hom gesê die krag in die krane was 220 volt. Die munisipaliteit het intussen die kragdraad wat vanaf die kragdrade in die straat na hulle huis in Mellvillestraat toe lei, herstel.

Piet sê hy wens niemand die slegte ervaring toe wat hulle met Bea gehad het nie. Daarom is dit raadsaam vir almal met ouerige huise wat nog die munisipale kragaansluiting op hul huise se dakke het, om die aanslui­ting deur ’n kundige te laat inspekteer. “Oudtshoorn se son is warm en kan die kragdrade se omhulsing mettertyd beskadig.”

Die Oudtshoorn Munisipaliteit se senior woordvoerder, Ntobeko Mangqwengqwe, het op ’n na­vraag van Die Hoorn gesê die ouer tipe rooi en swart diensaansluitinggeleiers van die paal na die huis kan oor jare verweer wat krakies in die isolasie kan veroorsaak, veral onder winderige toestande. “Sulke oorhoofse geleiers moet daarom nie aan metaaldakke raak nie. Sou die eienaar/inwoner daarvan bewus word dat die oorhoofse aansluiting na hul perseel moontlik gevaar kan inhou, moet hulle die elektriese departement skakel.”

Oorhoofse geleiers soos die swart tweedraad- of enkel swart geïsoleerde geleier is egter UV-bestand en behoort nie sodanige gevaar in te hou nie.

“Eienaars moet daarop bedag wees dat die geleier op die dak gestut moet wees. Wees ten alle tye bewus van die moontlike gevare as daar aan ’n geleier gewerk word.”

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?