Nou nog water vir 270 dae

Deur Liesel le Roux
DIE Departement van Water en Sanitasie is vasbeslote dat die Blossoms-pyplyn eers water aan Oudts­hoorn moet lewer voordat hul toestemming sal gee en geld beskikbaar sal stel vir nog ’n dam vir die dorp.

Dit was die antwoord van die Groter Oudtshoorn se direkteur tegniese dienste, Chris Koch, op vrae van inwoners verlede Donderdag by ’n waterberaad wat aangebied is deur die Wes-Kaapse Departement van Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme asook die organisasie Green Cape wat besighede bystaan met waterbesparing en beter waterbenutting.

Volgens Koch, wat ’n oorsig gegee het oor die huidige watersituasie op Oudtshoorn, praat die munisipaliteit al twee jaar lank met die departement oor ’n dam vir Oudtshoorn. “Die departement het egter al verskeie kere vir ons gesê daar is geen geld beskikbaar vir ’n dam voordat Blossoms nie water aan Oudtshoorn lewer nie.”

Koch sê die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewing­sake en ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, het aan­gedui dat ’n afvaar­diging van sy departement ook met die departement van water oor die behoefte aan ’n dam sal praat.

Oor ’n afname in waterdruk by die diepwater-boorgate by Blossoms, het Koch gesê die geohi­dro­loë wat Blossoms evalueer, is wel van mening dat dit volhoubaar water sal kan lewer.

Die Groter Oudtshoorn-raad sal na verwagting vandag ’n besluit neem oor ’n noodpyplyn van Blossoms na Oudtshoorn waarvoor die Nasionale Tesou­rie en die Nasionale Rampbestuursentrum R30miljoen beskikbaar gestel het. Volgens aanvanklike beraming sou die noodpyplyn R80miljoen gekos het, maar word tans gekyk na ’n “afgeskaalde” pyplyn wat ’n beraamde R50miljoen sal kos, geld wat die departement van plaaslike regering hopelik sal beskikbaar stel.

Nog 270 dae tot Dag Zero
Koch het inwoners geprys vir hul merkwaardige besparing van water wat saam met die onlangse reën die dorp se watervoorrraad tot 270 dae gerek het.

Oudtshoorniete gebruik tans tussen 9,5 en 9,8 miljoen liter water per dag, veel minder as die 15 miljoen liter onder normale omstandighede en 17,9 miljoen liter in die somer. Baie inwoners maak ook gebruik van die gratis gesuiwerde rioolwater wat die munisipaliteit beskikbaar stel vir besproeiing.

Landbouers het egter gewaarsku dat die waterkrisis ver van verby is. “Die geld wat die regering vir water gee, kan baie beter gebruik word deur dit beskikbaar te stel vir ’n dam,” het Johan Koegelenberg, ’n boer van die om­gewing, gesê.

Log in with your credentials

Forgot your details?