Nog toeriste se handsakke met ontbyt in hotel gesteel

nuus

NOG toeriste het gisteroggend in die eetsaal van ’n hotel op Oudtshoorn onder handsak­diewe deurgeloop.

Volgens kapt Louis Visser, polisiewoord­voerder, ondersoek die Oudtshoorn Polisie ’n saak van diefstal nadat twee handsakke van Oostenrykse toeriste vanoggend 07:50 vanuit die Oudtshoorn Inn se eetsaal gesteel is.

Volgens Visser kan dit dieselfde mans wees wat op 3 Januarie ook handsakke van toeriste in die ontbytkamer van die Queen’s Hotel op die dorp gesteel het.

CCTV-kameras by die Oudtshoorn Inn toon drie mans met hoede en pette op wat die saal binnestap, die handsakke gryp en weer uitstap. Hulle stap daarna in Van der Rietstraat af.

Kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, sê die beeldmateriaal toon ’n blanke man, ’n lang, skraal swart man en nog ’n man wat Asies of Indies kan wees.

In die handsakke was onder meer selfone, euro’s, die eienaars se paspoorte, beursies en kontant.

Die waarde van die twee handsakke met hul inhoud word op onderskeidelik R13 000 en R50 000 beraam.

Log in with your credentials

Forgot your details?