Nog ’n botsing op berugte hoek

Net Wes-Kaapse regering mag ingryp met verkeersbeheer in dié pad

Die Hyundai i10 wat Vrydagmiddag ’n padbord in Baron van Reedestraat na ’n botsing met ’n ander voertuig getref het.Foto: Angelique Erasmus

Die Hyundai i10 wat Vrydagmiddag ’n padbord in Baron van Reedestraat na ’n botsing met ’n ander voertuig getref het. Foto: Angelique Erasmus

Liesel le Roux en Angelique Erasmus
’N BOTSING Vrydagmiddag op Oudtshoorn waar­tydens ’n padbord stukkend gery is, het die kollig weer laat val op een van die dorp se gevaarlikste straathoeke, die kruising van Baron van Reede- en Van der Rietstraat.

Vrydag se botsing het omstreeks 17:30 plaasgevind toe ’n Ford Focus vanuit Wesbank se rig­ting gebots het met ’n Hyundai i10 wat in Baron van Reedestraat in die rigting van die Kango Grotte onderweg was.

Die bestuurder van die Ford Focus het op die toneel aan Die Hoorn gesê hy moes effens oor die stopteken in Van der Rietstraat beweeg om te kon sien of daar aankomende verkeer in Baron van Reedestraat was toe die twee voertuie mekaar getref het.

Die Hyundai het op die middelman in Baron van Reedestraat beland en ’n padbord getref. Die bestuurder van die Hyundai is lig beseer.

Die betrokke straathoek is gereeld die toneel van voertuigbotsings. ’n Blombak van stene op die hoek is kort voor die KKNK herstel nadat die bestuurder van ’n vragmotor onlangs nie sy draai kon kry nie en dit getref het. Dié blombak is volgens Leon Coetzee wat op die een straathoek woon, al drie keer stukkend gery. Hy het dit een keer herstel, ’n buurman op ’n ander hoek, Bennie de Wet, een keer en die munisipaliteit een keer.

Coetzee sê daar is verskeie faktore wat bydra tot die baie botsings op die hoek. Onder dit tel die hoë snelheid waarteen voertuie ná donker in Baron van Reedestraat jaag, die vaart waarmee voertuie uit Baron van Reedestraat in Van der Riet­straat indraai, asook die feit dat voertuie van-uit Van der Rietstraat vier bane moet kruis om oor Baron van Reedestraat te kom.

Verskeie inwoners het vandeesweek – soos die afgelope jare ná elke botsing op dié hoek – gevra dat verkeersligte daar aangebring word.

Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoer­der van die munisipaliteit, mag slegs die provinsiale regering so ’n besluit neem omdat Baron Van Reedestraat onder hul beheer val.

“Ons het reeds verskeie briewe aan die Wes-Kaapse regering geskryf vir bystand oor die beheer van verkeer op die pad,” het hy gesê.

Mangqwengqwe sê die pad is deur die provinsie geklassifiseer as ’n hoër orde-roete wat me­dium verkeer dra. Verkeer op dié pad moet voorkeur kry en nie aangemoedig word om te stop behalwe vir voetoorgange nie. “Vir enige verkeersligte, verkeersirkels ensovoorts sal ’n deeglike en gedetailleerde assessering van die pad en die verkeer gedoen moet word.

• Volgens sers Gretchen Michaels, polisie­woordvoerder, word ’n klag van roekelose en nalatige bestuur ná die botsing ondersoek.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?