Negejarige sterf nadat Amerikaanse veghond haar aanval

Chante Horsban. Foto verskaf.

Chante Horsban. Foto verskaf.

Deur Ilze-Mari Gründling
’N GEREGTELIKE doodsondersoek is Saterdagaand deur die Oudtshoorn Polisie geopen nadat ’n negejarige meisie van Calitzdorp gesterf het na ’n aanval deur ’n Amerikaanse veghond.

Shanté Horsban, ’n leerder van Gamka Oos Primêr, en ’n maatjie, Merilee Gysman (8), het in Gamkaweg braaivleis by hul buurvrou, Katryn Geduld, gaan afgee toe Geduld se hond die twee met hul aankoms aanval.

Die hond is Maandag deur die Karoo Animal Protection Society (KAPS) verwyder en uitgesit.

Merilee vertel dat sy by die hek gewag het terwyl Shanté die vleis na die voordeur geneem het.

“Die hond het geblaf en toe skrik sy. Dit was vas aan ’n ketting, maar het probeer los kom. Shanté het die vleis laat val, toe hardloop ons. Die hond het toe los gekom.”

Geduld vertel dat sy die hond weg van die kinders probeer kry het.

“Merilee kon wegkom, maar die hond het Shanté aan die gesig beetgehad. Ons het geskree en water op die hond gegooi; dit het nie gewerk nie. Ons moes grawe gebruik om die hond sover te kry om te los.”

Volgens Geduld word die hond gereeld deur kinders geteister en hou hy darom nie van kinders nie. Geduld is tydens die voorval aan haar linkerbeen gebyt.

Shanté is per ambulans na die Oudtshoorn Hospitaal geneem. Sy is later die aand oorlede.

“Die helfte van Shanté se kopvel was af en sy het ’n oog verloor. Haar hele lyfie was vol bytmerke. Sy het soveel pyn gehad. Sy was vir drie ure in die teater. Ek was so bekommerd,” vertel Sophia Horsban, Shanté se ma.

Horsban (40) vertel dat haar kind baie stil was.

“Sy was altyd gelukkig en vriendelik. Sy was ’n introvert; sy het nie maklik uit haar eie met iemand gepraat nie. Sy was die stilste van al my kinders.”

Colette Teale (voorsitter van KAPS) sê ’n hele handvol mense van die Bergsig- en Gamka-Wes-gemeenskap wil nou hul honde laat uitsit omdat hulle bang is dat hulle ook gebyt sal word.

“Die honde lewe in haglike omstandighede. Baie is permanent vasgemaak en kan nie rond beweeg nie, ander word aggressief grootgemaak. Dit is tyd dat dit stop. Ons gaan die saak verder neem. Hierdie hond was altyd vasgemaak aan ’n ketting en is konstant deur kinders geterg.”

Volgens Dee Hazell, ’n gekwalifiseerde veearts en inspekteur, was die Amerikaanse veghond 18 maande oud en het hy sy hele lewe aan ’n ketting deurgebring.

Hazell vertel dat honde baie gefrustreerd kan raak as hulle nie genoeg oefening en interaksie kry nie. Honde wat permanent vasgemaak word, kan depressief raaken daarna aggressief.

“Ons wil hê dat die Nasionale Dierebeskermingswet verander moet word. Die wetgewing maak nie genoeg voorsiening vir diere wat vasgemaak word nie.”

Volgens kapt Malcolm Pojie, woordvoerder van Suid-Kaap Polisie, duur die polisieondersoek voort.

• Die Horsban-gesin het die week die gemeenskap versoek om hulle te help met die begrafniskoste. Hul verskering het nog nie uitbetaal nie en hulle kan tans nie die begrafnisdiens bekostig nie. Vir enige navrae of donasies, kontak Emile Cupido, gemeenskapswerker, by 073 018 7632.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?