Negejarige sterf na fratsongeluk tydens die KKNK

'n foto van Josh Pharaoh wat deur sy oupa, Hamilton Pharaoh op Facebook geplaas is.

‘n Foto van Josh Pharaoh wat deur sy oupa, Hamilton Pharaoh, op Facebook geplaas is.

‘N KAAPSE familie is in rou gedompel nadat ‘n negejarige seuntjie vanoggend in die vroeë oggendure in die Life Bayview Hospitaal oorlede is na ‘n fratsongeluk Vrydagmiddag by die KKNK.

Josh Pharaoh het ‘n ernstige kopbesering opgedoen toe hy by ‘n uitstalling van die SANW by die KKNK geval het.

Hy is na die Klein Karoo MediClinic geneem en van daar oorgeplaas na die Life Bayview Hospitaal in Moselbaai.

Na verneem word, was hy in ‘n koma na die ongeluk en is ‘n operasie in die Life Bayview Hospitaal op hom gedoen.

Talle mense het op Facebook-blaaie hul hartseer oor en simpatie met Josh se dood uitgespreek, onder meer op die bladsy van sy ma, Nicole Cedras, en die blad Oudtshoorniete Staan Saam.

In ‘n aangrypende inskrywing op Facebook skryf Josh se oupa, Hamilton Pharaoh, die volgende oor sy geliefde kleinseun se dood: “There are no words to describe the pain we all are feeling at this point. Our sunshine grandchild who made us love beyond all boundaries is no more. RIP Josh James Pharaoh our life will never be the same again. I know you have left our lives with an incredible gift of memories that will last us a lifetime. Your life during the past 9 years has been an incredible journey of love and blessings. Thanks be to God for allowing all of us to have you in our lives.”

Die Hoorn wil ook hiermee ons innige simpatie en medelye teenoor Josh se breë familie uitspreek.

 

Log in with your credentials

Forgot your details?