Nee vir geroesemoes op straat

Een van vele foto’s wat aan Die Hoorn verskaf is oor die situasie oor veral naweke buite ’n kuierplek in Baron van Reedestraat op Oudts­hoorn. Drankbottels buite die kuierplek is sigbaar op die foto.

Een van vele foto’s wat aan Die Hoorn verskaf is oor die situasie oor veral naweke buite ’n kuierplek in Baron van Reedestraat op Oudts­hoorn. Drankbottels buite die kuierplek is sigbaar op die foto.

Deur Angelique Erasmus
DRANKGEBRUIK op die sypaadjie en soms in die straat, ’n lawaaiery van mense, motors wat jaag, urine en braaksel teen winkelmure.

Dit is van die klagtes wat sakelui en inwoners in die omgewing van die bekende en gewilde Q-Bar in Baron van Reedestraat die laaste paar weke onder Die Hoorn se aandag gebring het.

Volgens al die mense wat met Die Hoorn gepraat het, het dié probleme die afgelope jaar begin kop uitsteek.

“Dit is elke naweek se probleem, om nie eens te praat van die gemors wat agtergelaat word nie,” sê Christof Bezuidenhout, een van die naburige besigheidseienaars.

“My besigheid se dranklisensie kan in die gedrang kom as mense buite naby my perseel drank gebruik.”

Daar word klaarblyklik veral Vrydag- en Saterdagaande partytjie gehou en selfs “do-nuts” op die oop stuk grond langs Gotlandhuis gegooi.

Bezuidenhout beweer dat vriendelike versoeke aan mense om nie buite te staan en drink nie, al met kru taal beantwoord is, klippe al gegooi is of die versoek net geïgnoreer is.

Volgens hom is die Polisie al verskeie kere geskakel, maar daag hulle dikwels nie op nie, of vermaan hulle net die oortreders om van die drank ontslae te raak.

“Ek het al verskeie kere besigheid verloor omdat my kliente nie veilig voel om by my besigheid in te kom of uit te gaan nie.”

Chanté Witbooi van The Gent, ’n besig­heid in die omgewing, kla dat die reuk in die omgewing op Maandae iets verskrikliks is.

“Dit ruik oral na urine. Leë drankbottels en gemors lê die sypaadjie vol.”
Volgens Wesley Rhodes van My Wardrobe  moet die besighede Maandae inspring om die braaksel en urine op die sypaadjie skoon te maak.

Brian Minnie, eienaar van Q-Bar, sê hy kan nie op die sypaadjie optree nie omdat dit nie sy perseel is nie. “Ons laat nie toe dat kliënte hul eie drank by die besigheid inneem nie. Ons is baie streng hieroor. Sodra my werknemers dit sien, word die persone uitgejaag. Ongelukkig kan ek niks doen as mense op die sypaadjie drink nie. Dan moet die Polisie geskakel word.”

Brian Nicol, eienaar van die perseel, het op navraag van Die Hoorn gesê hy was nie bewus van die probleem nie.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is dit ’n oortre­ding om in die openbaar te drink, en moet mense die Polisie ontbied en moet die Polisie teen oortreders optree.

Hy het aangedui dat hy die kwessie asook foto’s wat aan Die Hoorn verskaf is, onder die aandag van die Polisie gebring het.

Log in with your credentials

Forgot your details?