Nagmerrie-ervaring!

Die uitgebrande bus.  Foto: Alet van der Walt, Volksblad

Die uitgebrande bus.  Foto: Alet van der Walt, Volksblad

Gerhard de Kock (middel) by sy ouers, Joey en Sarel  de Kock. Die wond waar ’n klip hom teen die voorkop getref het, is sigbaar net onder sy haarlyn.                  Foto: Schalk le Roux

Gerhard de Kock (middel) by sy ouers, Joey en Sarel de Kock. Die wond waar ’n klip hom teen die voorkop getref het, is sigbaar net onder sy haarlyn. Foto: Schalk le Roux

Johan en Philné Saayman.     Foto: Facebook

Johan en Philné Saayman. Foto: Facebook

Deur Liesel le Roux
“AL wat ek oor het, is die klere wat ek aan het.”
Dit was gisteroggend die woorde van Gerhard de Kock (52), een van die passasiers op ’n Greyhound-bus wat Maandagaand op pad na onder meer Oudts­hoorn in die Vrystaat aan die brand gesteek is tydens ’n gewelddadige betoging op die R30 naby Allanridge.

Die passasiers is deur die betogers aangerand en beroof nadat die bus kort voor 21:00 onder die klippe gesteek is toe dit by brandende bande wou verbyry.

Die voorruit is getref en het gebars wat die be­stuurder gedwing het om te stop.

Gerhard, wat in die Mediclinic Welkom opgeneem is nadat hy binne-in die bus deur ’n groot klip teen die voorkop getref is, was op pad van Polo­kwane na Oudts­hoorn om by sy ma en pa, Joey en Sarel de Kock, en sy suster, Heleen de Jager, te kom kuier.

Joey doen vryskut-bemarking vir Die Hoorn.

Gerhard moes ses steke in die wond aan sy voorkop kry, en vertel dat hy sy een been en arm ook baie seergemaak het toe hy in die donker in ’n gat in die veld geval het terwyl hulle van die bus weggehardloop het op soek na ’n polisiekantoor.

Hy en die ander passasiers het al hulle bagasie wat in ’n sleepwa agter die bus was, verloor.
Joey sê Gerhard het nie soos sy gewoonte was onder in die bus gesit nie, maar bo, ten spyte daarvan dat hy knieprobleme het.

“Dit het hom egter die aanvanklike aanval ge­spaar toe die betogers die bus ingebars het. Hy het daarin ge­slaag om uit die bus te kom toe die aanvallers na agter beweeg het om die bagasie te teiken, en kon so sy selfoon behou.”

Twee Oudts­hoorniete, Philné Saayman en Barbara Botha, was ook op die bus.

• Philné se man, Johan, het gister aan Die Hoorn vertel dat sy vrou hom omstreeks 20:52 gebel het en gesê het dat hulle aangeval word.

Negentien minute lank het hy die aanval op die passasiers saam met sy vrou beleef.
“Toe sy my bel en vir my sê wat aan die gang is, het ek vir haar gesê om nie die selfoon af te sit nie sodat ons kan hoor wat aangaan. Ek het ook vir haar gesê om plat te lê.

“Ek het gehoor hoe daar op mense geskree word en die passasiers gil terwyl hulle skoene, brille, juweliersware en kontant gesteel word. Dit was verskriklik. Ek het gehoor hoe hardloop mense weg, en toe het die selfoon stil geword.”

Philné, wat volgens Johan baie getraumatiseer is en gister gerus het, het aan hom vertel dat sy saam met vier ander vroue en ’n jong student in die donker nag van die bus weggehardloop het. Toe hulle ’n ent van die bus af weg was, het hulle gesien hoe van die betogers die waentjie se slotte probeer oopkry om by die bagasie uit te kom. Toe hulle nie daarin kon slaag nie, het hulle die bus en die waentjie aan die brand gesteek.

Philné was boonop kaalvoet omdat sy vroeër die aand haar sandale in die bus uitgetrek het.
Ten spyte daarvan dat die passasiers deur inwoners uit die omgewing aangeval is, was daar ook talle weldoeners uit die Nyakalong-township daar naby wat die passasiers gehelp het.

“Binne die hele ding was daar baie wonder­werke,” sê Johan. Hy sê daar was twee mans uit die omgewing wat die hele tyd naby die groep vroue gebly het om te kyk dat hulle veilig is. Hulle is ook ’n aantal kilometer verder deur ’n ander man uit die omgewing opgelaai wat hulle na ’n polisie-kantoor ’n ent daarvandaan gevat het.

Daar gekom het Philné boonop haar handsak gevind wat iemand op die toneel opgetel het. Hoewel al haar geld gesteel was, was haar bank­kaarte en ID ongeskonde, en kon sy ’n vliegtuig­kaartjie terug na

George koop.
• Barbara (64), ’n weduwee van Oudts­hoorn, was vanaf Krugersdorp op pad terug huis toe met die bus, vertel haar dogter, Lizél Wolmarans van Oudtshoorn.

Hoewel Barbara daarin geslaag het om haar sel­foon vir die aanvallers weg te steek, is haar troupand met geweld van haar vinger afgeruk. Sy is ook met klippe bestook en was vol glasstukke, sê Lizél.

Volgens Lizél was haar ma erg getraumatiseer ná die voorval.

Jasen Smallbone, ’n operasionele bestuurder van Greyhound, het by navraag van Die Hoorn gesê dat Greyhound bewus was van protesoptrede deur inwoners in die betrokke omgewing Maandag, maar dat daar volgens hulle inligting nie protesoptrede op die geskeduleerde roete was nie.

“Vroeër die dag het ander busmaatskappye se busse ook daardie pad gebruik,” het hy gesê.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?