Naamsverandering: Voortrekker dalk Nelson Mandela Boulevard

Deur Liesel le Roux
DIE raad van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit oorweeg dit om Voortrekkerweg se naam na die Nelson Mandela Boulevard te verander.

’n Boulevard word gewoonlik gebruik vir ’n breë straat met ’n middelman en bome aan die kante of op die middelman. Dit loop ook gewoonlik – soos Voortrekkerweg – regdeur ’n dorp of stad.

Indien die naamsverandering realiseer, sal dit die tweede keer wees wat die straat se naam verander. Die straat, een van Oudtshoorn se oudste strate en ’n hoofroete deur die dorp, het sedert die opmeting van die dorp in 1847 bekend gestaan as Markstraat. Dit is in 1938 met die 100-jarige herdenking van die Groot Trek na Voortrekkerweg herdoop.

Die DA- en ANC-raadslede het Dinsdagoggend tydens ’n raadsvergadering ’n voorstel van die burgemeester, Colan Sylvester, vir die naams-verandering gesteun. Die twee raadslede van Icosa en die EFF-raadslid, Diswayne Maarman, het egter ’n teenvoorstel van Maarman gesteun dat die straatnaam na Winnie Mandela Boulevard moet verander. Raadslid Gaven Juthe van Sarco het buite stemming gebly.

Volgens die raadsvergadering se agenda sal die munisipaliteit se enigste uitgawes vir die naam-verandering wees om vir die openbare deelnameproses asook die vervanging van straatnaamborde te betaal.

Sylvester het tydens die indiening van sy voor­stel gesê alle nodige prosesse ten opsigte van ’n naamsverandering moet deur die raad gevolg word. Dit sluit ’n openbare deelnameproses asook advertensies in die pers oor die aangeleentheid in.

Volgens Sylvester sal die vernoeming Mandela se 100ste verjaarsdag gedenk, Mandela se lewe en dit waarvoor hy gestaan het vier, en sy naam in die geskiedenis van Oudtshoorn verewig.

Hy het gesê daar gaan gepoog word om die naamsverandering voor die KKNK te laat realiseer.

Maarman was van mening dat Nelson Mandela al dikwels oor die wêreld vereer en vernoem is en Winnie Mandela erkenning verdien vir haar aandeel in die stryd teen apartheid.

Log in with your credentials

Forgot your details?