Munisipaliteit moet sê, sê Bredell

DIE besluit of die sekwestrasie-eis teen die oud-raadslid Pierre Nel teruggetrek moet word of nie, berus by die Oudtshoorn Munisipaliteit.

Dit is die skriftelike terugvoer wat die kantoor van Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, vandeesweek op navrae daaroor aan die orga­nisasie Red Oudtshoorn gegee het.

Leon Coetzee, een van die plaaslike inwoners wat betrokke is by Red Oudtshoorn, sê die organi­sasie het ’n skrywe oor die sekwestrasie-eis aan Bredell gestuur om klarigheid te kry by wie die verantwoordelikheid lê.

Die Hoorn het verlede week berig dat die regsfirma Coetzee en Van der Bergh, wat pro amico vir Nel optree, nie daarin kan slaag om afsprake oor die aangeleentheid te kry by die burgemeester, speaker of munisipale bestuurder nie.

Nel se regsverteenwoordigers wil die munisipaliteit versoek om die eis teen Nel terug te trek op grond van Art 51 van die Insolvensiewet Nr 24 van 1936 (ingevolge waarvan ’n sekwestrasie-eis teruggetrek kan word as daar nie bates is nie), sodat hy kan rehabiliteer en weer ’n werk kan kry.

Die munisipaliteit was die enigste eiser in die saak teen Nel en is voor sekwestrasie ingelig dat hy geen bates gehad het nie. Dié optrede het die munisipaliteit na bewering sowat R300 000 gekos.

• Nel het vandeesweek ontken dat die DA alle koste van die Hooggegegshofsaak betaal het, soos James Selfe, voorsitter van die DA se Federale Raad, verlede week aan Die Hoorn gesê het. Volgens Nel het die DA ’n eerste rekening wat gelewer is, wel betaal.

Log in with your credentials

Forgot your details?