Moord laat dorp in skok

‘Ek voel nie meer veilig nie’

Deur Liesel le Roux
SY sien nie kans daarvoor om met haar kinders aan te bly in die huis waar haar man die afgelope naweek vermoor is nie, sê Magdaleen Titus, ANC-raadslid van die Groter Oudtshoorn en lid van die ANC se provinsiale uitvoerende komitee.

Preston Titus (63), ’n stafsersant by die Oudts­hoorn Infanterieskool, se lyk is vroeg Saterdag­oggend met veelvuldige steekwonde in sy rug en ken in ’n slaapkamer in hul huis in die woonbuurt van die weermagbasis gevind.

Die moord op Titus, ’n bekende Oudtshoorniet, het skokgolwe deur die dorp gestuur.
“Ek voel nie meer veilig hier nie,” het Magdaleen Dinsdag aan Die Hoorn gesê oor die huis in die rustige woongebied aan die westekant van die dorp.

Sy glo wie ook al die nag in hul huis was, het by ’n sydeur ingekom.

Haar selfoon en goue horlosie wat uit die huis vermis word, het naby hierdie deur in ’n sitkamer gelê.
Twee tablette word ook uit die huis vermis.

Sy sê sy en haar jongste dogter, Amore (14), het saam in ’n kamer gelê en slaap toe haar oudste dogter, Penelope (18), by die huis gekom en haar pa probeer wakker klop het teen die kamervenster waar hy geslaap het.

Sy het hom ook probeer bel en kon die selfoon binne die huis hoor lui.
Volgens Magdaleen kan sy onthou dat sy uit ’n diep slaap wakker geword het en besef het haar dogter klop.

Sy het na haar man geroep en wou weet hoekom hy nie oopmaak nie. Sy het terselfdertyd na sy kamer gestap waar sy op sy lyk afgekom het.

“Ek onthou net ek het probeer verhinder dat my jongste dogter daar ingaan, want ek wou haar dit spaar,” vertel sy.

Kapt Malcolm Pojie, woordvoerder van die Polisie in die Suid-Kaap, sê volgens voorlopige inligting het Penelope omstreeks 24:00 by die huis gekom. Magdaleen het nadat haar man se lyk gevind is, na vriende gegaan van waar die Polisie ontbied is.

Niemand was teen gistermiddag nog in verband met die moord in hegtenis geneem nie.

Volgens Pojie is daar volgens voorlopige ondersoek geen tekens van gedwonge toegang tot die huis nie.

Hy het gevra dat enigiemand met inligting wat die Polisie in hul ondersoek na die moord op Titus kan help, die ondersoekbeampte, ao Martin le Roux, sal kontak by sel 082 402 1730 of tel 0442744430, of andersins die Stop Misdaad-nommer by 086 001 0111.

• Verskeie hooggeplaastes het vandeesweek hul medelye teenoor die Titus-familie betuig.

Onder hulle tel die Groter Oudtshoorn se burgemeester, Colan Sylvester, en die Minister van Verdediging en Militêre Veterane, Nosiviwe Mapisa-Nqakula.

“Dit is hartseer dat iemand sy lewe in so ’n verskriklike voorval kan verloor,” het Mapisa-Nqakula gesê.
Dit was duidelik uit die reaksie van mense op sosiale media dat Titus nie net op Oudtshoorn nie, maar ook elders ’n gewilde en geliefde man was.

So het mense onder meer op Die Hoorn se Facebook-bladsy gereageer:
Ria Esterhuizen: Baie sterkte aan die Titus-familie. So sad. RIP Titus, kon nie glo wat ek lees nie. Jy was ’n persoon wat ek altyd kon bel met ’n navraag en jy het my altyd gehelp met respek.

Magda Berry: Wat ’n skok. Titus, ons by PNA gaan jou mis. Jy was altyd vriendelik en het altyd iets mooi gehad om te sê. Jou plekkie gaan leeg wees. RIP my vriend. Sterkte aan die familie.

Rene Ellers-Gardiner: Dit is baie skokkende nuus. Rus in vrede, Preston Titus. Sterkte aan Maggie, kinders en familie. Mag God julle vertroos in hierdie hartseertyd.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?