Met landdros se siekte kan April se aansoek om appèl weer nie aangehoor word nie

Gordon April.

Gordon April.

Deur Garnett Wicomb
UITSPRAAK in die aansoek van die voormalige burgemeester van Oudts­hoorn, Gordon April, om teen sy skuldigbevinding en vonnis te appelleer, is vanoggend uitgestel omdat die betrokke landdros tans in die hospitaal is.

Die staatsaanklaer, Corné Pretorius, het streeklanddros Daniel Boks versoek om die saak tot Maandag, 24 April, uit te stel wanneer streeklanddros Mark van Wyngaardt na alle waarskynlikheid weer beskikbaar sal wees.

April se regsverteenwoordiger, Christo van der Bergh, het gesê hy is bewus van die landdros se siekte en aanvaar die moontlikheid dat hy Maandag gesond sal wees en uitspraak sal kan lewer.

April is skuldig bevind aan diefstal van sand en klip van die munisipaliteit, die onwettige gebruik van munisipale voertuie, intimidasie en poging tot regsverydeling en effektief tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis.

Van Wyngaardt, het op 7 April gesê hy wil niemand benadeel en ’n oorhaastige besluit ten opsigte van die aansoek neem nie en het die saak tot vandag uitgestel.

Talle ander sake wat voor Van Wyngaardt dien, is ook vanoggend uitgestel. Hieronder is die verhoor van twee polisie­beamptes van Dysselsdorp, Dawid Vor­ster en Daniel Lingeveld wat tereg staan op ’n aanklag van moord. Hulle word daarvan aangekla dat hulle op 13 Januarie 2012 vir Frank Links sodanig aangerand het dat hy in die Dysselsdorp Polisiekantoor aan sy beserings beswyk het.

Albei pleit onskuldig en die saak is ook tot Maandag 24 April uitgestel.

Log in with your credentials

Forgot your details?