Manus maak been baie seer toe hy met fiets val

Manus Blignault wat in die Klein Karoo MediClinic opgeneem is.

Manus Blignault wat in die Klein Karoo MediClinic opgeneem is.

’N BEKENDE en geliefde inwoner van Oudtshoorn, Manus Blignault, is met ’n ernstige beenbesering in die Klein Karoo MediClinic opgeneem nadag hy gisteraand in Baron van Reedestraat oorkant die Oudtshoorn Inn met sy fiets geval het.

Die 67-jarige Blignault het vanoggend in sy hospitaalbed vertel hy het gister kort ná 17:00 met sy fiets gaan ry.

“Ek het in die rigting van die Kango Grotte aan die linkerkant van die linkerbaan gery. Toe ek oorkant die Oudtshoorn Inn was, het ’n bus in die regterkantste laan van agter gekom.

“Die bus het net duskant die Ocean Basket Restaurant regs by die hotel se parkeerterrein ingedraai. Met nog voertuie wat van agter aangery gekom het, en die agterste punt van die bus wat met die draaislag in my rigting beweeg het, het ek nog verder na links gedraai. Ek wou uit die pad kom van die bus en ander voertuie en het toe oor die randsteen op die sypaadjie geval.”

Die Hoorn het vanoggend op die toneel gaan kyk en gesien die bus het wederregtelik regs gedraai oor ’n dubbel-sperstreep met geel dwarsstrepe tussenin.

Blignault se regteronderbeen, wat vandeesmaand 37 jaar gelede baie ernstig in ’n motorfietsongeluk in die Schoemans-hoek-omgewing beseer is, het met die vallery weer baie seer-gekry en erg gebloei. Hy het ook ’n pyn in sy bors opgedoen met die vallery.

Destyds het hy twee jaar lank geveg om sy been te behou. Hy het toe talle operasies en sowat 20 veloorplantings aan sy been gehad. Hy is ook drie jaar gelede weer aan die been ge-opereer. Blignault ry fiets omdat hy baie fiksheids- en gesondheidsbewus is.

Hy vertel gister met die vallery het die omstanders en mense van die omgewing hom onmiddelik te hulp gesnel. Terwyl van hulle na sy wonde omgesien het, het hy sy familie gebel.
Sy dogter, Sonja McKay, en haar man, Vernon, het dadelik gekom om hom op te laai en sy vrou, Lana, het dr Wessel Vermeulen gebel.

“Toe ons by dr Vermeulen se spreekkamer aankom, het hy en sy personeel dit as ’n noodgeval hanteer en my dadelik gehelp. Hy het die bloeding gestop en die spiere en vel geheg. Daarna is ek in die MediClinic opgeneem.”

Blignault het aangedaan geraak toe hy dr Vermeulen en almal wat hom op die toneel en andersins bygestaan het, bedank het. Hy sê sy vallery het die nare herinneringe van destyds se motorfietsongeluk teruggebring toe hy langer as twee jaar in die bed moes bly.

Hy sê aangesien die senuwees in sy been met destyds se motorfietsongeluk beskadig is, het hy min gevoel in sy been, en verduur hy nie juis pyn nie.

Hy het met Die Hoorn se besoek vanoggend gewag dat plate van sy bors geneem word om vas te stel of daar enige beserings is.

Hy sal na verwagting binne ’n dag of twee uit die hospitaal ontslaan word, maar sal twee tot drie weke in die bed moet bly sodat sy wonde kan herstel. Volgens Bligmault was die dokter vanoggend by hom en lyk die wonde aan sy been bevredigend.

• Blignault sê hy was op pad om op die sementpad langs die Kango Grotte-pad te gaan ry toe die ongeluk gebeur het.

Hy het juis in verlede week se uitgawe van Die Hoorn in ’n brief die Oudtshoorn munisipaliteit bedank dat hulle die sementpaadjie netjies gemaak en die duwweltjies verwyder het sodat ’n mens weer lekker daar kan fietsry.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?