Man wat ouma se beddegoed steel tronk toe

Deur Garnett Wicomb
‘n Man wat drie duvetstelle ter waarde van R800 van sy ouma gesteel het, is in die Oudtshoorn Distrikshof tronkstraf opgelê nadat hy weer aan diefstal skuldig bevind is. Die 33-jarige Vuyo Jojina van Bongolethu, Oudtshoorn, met verskeie vorige veroordelings, het skuldig gepleit en getuig dat hy die duvetstelle verkoop het om geld vir dwelms in die hande te kry.

Landdros Lorraine Samuels het met vonnisoplegging gesê die gemeenskap verwag gepaste vonnisse vir oneerlikheidsmisdade en dat ‘n algehele opgeskorte vonnis soos deur die verdediging versoek onvanpas sal wees.

Jojina se ouma het getuig dat sy moeg is vir die diefstal van haar besittings. Sy het gelukkig haar duvetstelle teruggekry.

“Die Vader weet alleen. U ouma gee verblyf en kos. Dit is om die hand wat jou voed te byt. Daar is wetgewing om oues van dae te beskerm en dit is nie die eerste keer dat u van u ouma steel nie,” het die landdros gesê.
Landdroshof-Oudtshoorn-300x214
Jojina is tot 12 maande gevangenisstraf gevonnis waarvan die helfte vir vyf jaar opgeskort is. Hy is reeds in 2005 onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?