‘Maggie wou na Lesotho vlug’

• Borgaansoek in opspraakwekkende moordsaak begin

Maggie en Preston Titus in gelukkiger dae.  Foto: Facebook

Maggie en Preston Titus in gelukkiger dae. Foto: Facebook

Titus ontken skuld

Deur Garnett Wicomb en Liesel le Roux
DIE aansoek om borgtog van die Oudtshoorn-raadslid Magdaleen (Maggie) Titus (41), wat haar man, Preston, na bewering vermoor het, is gister in die landdroshof vir verdere getuienis van die ondersoekbeampte, ao Martin le Roux, tot volgende Woensdag, 21 Februarie, uitgestel.

Titus en haar medebeskuldigde en boesem-vriendin, Nathasia Stuurman, staan tereg op aanklagte van moord met voorbedagte rade en die besit van gevaarlike wapens.

Titus se borgaansoek het gister afgeskop, maar Stuurman het aangedui dat sy besluit het om nie in hier­die stadium om borgtog aansoek te doen nie.

Titus het gister in die Oudtshoorn Streekhof aangedui dat sy skuld ontken op die aanklagte teen haar.

Petisie met 1 200 se steun
Haar regsverteenwoordiger, Joshua Greeff, het ’n versoekskrif dat borgtog aan Titus toegestaan word as bewysstuk by die hof ingedien. Volgens hom het die versoekskrif sowat 1200 mense se handtekeninge daarop. Voor dit het hy ’n beëdigde verklaring van Titus aan die hof voorgelees.

In die verklaring word onder meer beskryf hoe Titus haar opgewerk het van ’n ontvangsdame tot ’n lid van die ANC se provinsiale uitvoerende komitee en die ANC se burgemeesterskandidaat vir Oudtshoorn in 2016.

Daar is ook gewys op die trauma en onstabiliteit wat die huidige situasie veroorsaak vir haar skoolgaande dogters van 14 en 18 jaar oud en dat albei vanjaar by skole buite die dorp ingeskryf moes word en nou geen ouerlike steun het nie.

Luidens die verklaring is veral haar jongste dogter baie afhanklik van haar.
Titus het voorts aangedui dat nie sy of haar regsverteenwoordiger toegang gehad het tot die klagstaat nie, maar dat sy gereed is om daarop te antwoord soos dit openbaar word.

Staat staan borgtog teen
Die staatsaanklaer, adv Michelle Weyers, het die hof meegedeel dat die staat borgtog vir Titus teenstaan weens die erns van die aanklagte teen haar.

Ao Le Roux het gister grotendeels getuig op grond van die pleitoor­eenkoms wat Titus se motor­be­stuurder, Sixabiso Klip, met die staat aangegaan het. Klip is tot effektief 15 jaar gevangenisstraf vir die moord op Preston Titus gevonnis.

Die hof het gehoor dat Maggie Titus die twee huur­moordenaars, Justin Mooi en ene Vusumsi, wat nog op vrye voet is, elkeen R30000 aangebied het om haar man te vermoor; en later ook vir Klip dieselfde bedrag aangebied het nadat hy haar meegedeel het dat hy nie betrokke wil wees nie.

Selfoonrekords
Volgens le Roux is selfoonrekords tussen Titus, Klip, Mooi en Stuurman ook deurslaggewende bewyse dat Titus die moord beplan het.

Maggie wou vlug
Le Roux het voorts getuig dat Titus op 19 Januarie op Barrydale in hegtenis geneem is nadat inligting bekom is dat sy op pad was na Montagu vanwaar sy na Lesotho wou vlug.
Volgens Le Roux was Titus die middag van 1 Desember briesend toe sy by Mooi wou weet waarom hulle nie haar man doodgemaak het nie. (Hy is daardie aand laat eers vermoor.)
Le Roux het die hof ook mee­ge­deel dat Titus glo met ’n bende in Worcester geskakel het om sekere individue “by te kom”.

Redes teen borgtog aangevoer
Volgens Le Roux is daar verskeie redes waarom Titus nie op borg vrygelaat kan word nie.

Sy was die een wat al die planne beraam het om haar man te laat vermoor en die vrees bestaan dat sy met getuies sal inmeng. Daar is ook bewyse dat sy die geld gedeponeer het om Mooi en Vusumsi se taxi-geld vanaf Port Elizabeth na Oudtshoorn te betaal.

Die twee het volgens Le Roux by twee geleent­hede die uitvoering van die moord uitgestel.

Die eerste keer omdat twee vriende by die oorledene gekuier het en die tweede keer omdat daar bure in die omgewing was. By die derde geleent­heid en aand van die moord op 1 Desember 2017 het Klip die twee mans na die Titus-huis geneem en in die motor bly sit.

Nadat die twee mans die huis binne is, het hulle na ’n rukkie uitgekom en niks gepraat oor wat binne gebeur het nie.
Hulle is via Mosselbaai na George waar Titus verblyf by ’n gastehuis gereël het en daarvoor betaal het.

Titus het volgens Le Roux ook aan Mooi gesê dat sy die agterdeur sal oop los en twee selfone, tablette en R3500 kontant op ’n bankie by die braaiplek sal los wat hulle moet neem sodat dit na ’n inbraak sal lyk.

Le Roux het voorts getuig dat Preston Titus 27 steekwonde opgedoen en ook met ’n hamer ge-slaan is. Die messe, hamer en bebloede kle­ding­stukke is later langs die Mosselbaai-pad gevind.

• Titus se voorkoms het Woensdag – Valentynsdag – weer aandag getrek. Haar bos rooi krulhare is gekomplimenteer deur ’n wit hemp met rooi en swart strepies en ’n wit langbroek.

Hulle wil net hê reg en geregtigheid moet geskied en geen borgtog aan die beskuldigdes toegestaan word nie, het dié groep inwoners gesê wat gister buite die Oudtshoorn Landdroshof gewag het om te hoor wat tydens die borgaansoek van Magdaleen Titus gebeur het. Omdat dit gister Valentynsdag was, was baie van die mense by die hof ook in rooi geklee.                              Foto: Liesel le Roux

Hulle wil net hê reg en geregtigheid moet geskied en geen borgtog aan die beskuldigdes toegestaan word nie, het dié groep inwoners gesê wat gister buite die Oudtshoorn Landdroshof gewag het om te hoor wat tydens die borgaansoek van Magdaleen Titus gebeur het. Omdat dit gister Valentynsdag was, was baie van die mense by die hof ook in rooi geklee. Foto: Liesel le Roux

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?