Kommer oor verval van Swartbergpas

‘Aangeleentheid grens aan ’n toerismekrisis en ons kan dit nie toelaat’

Daar is kommer in toerismekringe oor die toestand van die padoppervlak van die Swartbergpas aan die suidelike (Oudtshoorn-) kant van die pas.                       Foto: Jan Bester

Daar is kommer in toerismekringe oor die toestand van die padoppervlak van die Swartbergpas aan die suidelike (Oudtshoorn-) kant van die pas. Foto: Jan Bester

DAAR is groot kommer in toerismekringe oor die toestand van die padoppervlak van die historiese Swartbergpas aan die Oudtshoorn-kant van die pas en die negatiewe uitwerking wat dit op toerisme in die streek kan hê.

Die pas is geleë in ’n wêrelderfenisgebied en wêreldwyd bekend en een van die streek se grootste toerismetrekpleisters.
Jan Bester, een van die toeroperateurs wat toe­riste gereeld oor die pad neem, sê hy is bekommerd en moedeloos.

“Waar die noordelike kant na Prins Albert nou na verlede jaar se verspoelings pragtig opgegra­deer is, verval die suidelike kant met baie min onderhoudswerk deur die Eden Administrasie.

“Hierdie aangeleentheid grens aan ’n toerismekrisis en ons kan dit nie toelaat nie.

“Ons spandeer jaarliks letterlik honderde duisende rande om die Swartberg internasionaal te bemark. Daar heers reeds groot kommer oor die volhoubaarheid van die Swartbergpas as toerisme-aantreklikheid aangesien die huidige onderhoud van die pas aan die suidelike kant onvoldoende is. Ons as toeroperateurs ly ook skade aan ons voertuie wat onnodige uitgawes en instandhouding beteken.”

Dit blyk ook dat besoekers wat self die pad wil aanpak, dit nie meer doen nie as gevolg van die oppervlak daarvan. Boonop bestempel toeriste tans die rit oor die berg as “uiters onaangenaam”.

Dit wil voorkom of die grootste stok in die wiel van die opgradering van die pad die onbeskikbaarheid van gruis is nadat nuwe wetgewing in werking getree het ingevolge waarvan die sowat 290 beskikbare gruisbronne in die Eden Distrik onwettig verklaar is.

Volgens Hans Ottervanger, uitvoerende bestuurder van paddienste, is daar tans net 42 wettige gruisgroewe wat die hele Eden Distrik se gruispadnetwerk moet bedien. Dit is amper 3 100 km hoof- en afdelingspaaie.

“Dit is nie net die Swartbergpas wat onder die situasie ly nie, maar ook baie van ons ander paaie wat ’n ekonomiese im­pak het op groente- en vrugteboerdery.”

Ottevanger sê ten spy­te van die gruiste­kort sal sy departement poog om die pad so goed as moontlik te onderhou. “Ons sal planne beraam om herstelwerk te doen tot tyd en wyl ons behoorlik kan hergruis.” het hy gesê.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?