Kommer oor baie botsings

Bo en onder: Die toneel waar ’n Daihatsu Terios met agt insittendes Sondagoggend net buite Oudtshoorn op die George-pad omgeslaan het.                                         Foto’s verskaf deur AMS

Bo en onder: Die toneel waar ’n Daihatsu Terios met agt insittendes Sondagoggend net buite Oudtshoorn op die George-pad omgeslaan het. Foto’s verskaf deur AMS

1 AMS ongelukstoneel1

Bo: Dié voertuig het Sondagmiddag teen ’n paal langs die Kango Grotte-pad buite Oudtshoorn beland nadat die jong buitelandse toeris na bewering aan die verkeerde kant van die pad gery het.       	               		Foto: Schalk le Roux

Bo: Dié voertuig het Sondagmiddag teen ’n paal langs die Kango Grotte-pad buite Oudtshoorn beland nadat die jong buitelandse toeris na bewering aan die verkeerde kant van die pad gery het. Foto: Schalk le Roux

Bo: ’n Jetta wat Sondagaand in ’n botsing in Voortrekkerweg betrokke was.                                                      Foto: Schalk le Roux

Bo: ’n Jetta wat Sondagaand in ’n botsing in Voortrekkerweg betrokke was. Foto: Schalk le Roux

Deur Liesel le Roux
’N MAN van Bongolethu, Oudtshoorn is Sondag­oggend met die Air Mercy Services (AMS)-helikopter na die George Hospitaal geneem in ’n naweek wat weer eens gekenmerk is deur ver­skeie botsings op die paaie in en om Oudtshoorn.

Dit sluit buitelanders in wat in twee afsonderlike botsings op die Kango Grotte-pad beheer oor hul voertuie verloor het, en ’n dronkbestuursaak wat deur die polisie ondersoek word.

Luzuko Stoffels is ernstig beseer toe die Daihatsu Terios waarmee hy en sewe ander persone gery het, enkele kilometers buite Oudts­hoorn op die N12 na George omgeslaan het; digby die ingang na die Chandelier Game Lodge. Hy het na verneem word kopbeserings opgedoen.
Vyf van die insittendes – ’n man, ’n vrou en drie kinders – is volgens Nadia Ferreira, woordvoerder van die departement van gesondheid in die Eden Distrik, na die Oudtshoorn Hospitaal geneem waar hulle in die noodeenheid behandel is.

Die kinders en vrou is dieselfde dag ontslaan, terwyl die man Maandag na die George Hospitaal oorgeplaas is.

Sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, sê die botsing het omstreeks 11:20 plaasgevind toe die be­stuurder beheer oor die voertuig verloor het. Dit het die pad verlaat en omgeslaan.

Volgens bandmerke op die pad het die motor wat vanaf Oudtshoorn in die rigting van George onderweg was, links van die pad afgery waarna dit oorbeweeg het na die regterbaan waar dit omgeslaan het.

Die polisie ondersoek ’n saak van roekelose en nalatige bestuur.

• Twee buitelandse toeriste het ook oor die naweek op die Kango Grotte-pad buite Oudts­hoorn letterlik die pad byster geraak.

’n Amerikaanse motorfietsryer het verlede Vrydag omstreeks 16:45 naby De Kombuys beheer oor die motorfiets verloor.

Sondag omstreeks 13:25 het ’n Belgiese vrou wat aan die verkeerde kant van die pad gery het, se gehuurde motor teen ’n paal langs die pad beland toe sy vir aankomende verkeer moes uit­swaai. Dié ongeluk het naby die ingang na die Surval Boutique Olive Estate plaasgevind.

• Die Oudtshoorn Polisie ondersoek ’n saak van dronkbestuur nadat ’n Volkswagen Jetta en To­yota Sondagaand omstreeks 18:50 in ’n botsing in Voortrekkerweg naby Oudtshoorn-Wes Handelshuis betrokke was.

Volgens mense op die toneel het die Jetta wat vanuit die dorp se rigting op pad was, ’n Toyota getref wat uit ’n parkeerplek in Voortrekkerweg ingedraai het.

Die Jetta se bestuurder is in hegtenis geneem en vir bloedtoetse geneem. Na be­wering was die Jetta se ligte nie aangeskakel ten tye van die botsing nie.

• Inwoners van Oudtshoorn het die week op verskeie platforms hul kommer oor die talle bot­sings die laaste tyd in en om die dorp uitgespreek en gevra vir strenger optrede teen padoortreders.
Lees ook redakteursbrief van vandeesweek.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?