Kom, Bokkie, kom!

Joel Stransky en Yolande de Villiers Saterdag by die eindpunt van die Cape Pioneer Trek wat in Baron van Reedestraat voor die Queen’s Hotel op Oudtshoorn geëindig het. Foto: Higgo Jacobs

Joel Stransky en Yolande de Villiers Saterdag by die eindpunt van die Cape Pioneer Trek wat in Baron van Reedestraat voor die Queen’s Hotel op Oudtshoorn geëindig het. Foto: Higgo Jacobs

Deur Schalk le Roux
DIT was “great” om Yolande de Villiers as spanmaat te hê vir die Cape Pioneer Trek, sê die Springboklosskakel-legende Joel Stransky wat Saterdag saam met haar tweede in die gemengde afdeling was in dié moordende multiskofberg­fietsren oor sewe dae en 533km.

Dit was die eerste keer dat Stransky, wat al sewe Cape Epics voltooi het, die CPT gery het. Stransky het verlede Vrydagaand ná die sesde skof by die prysuitdelingsfunksie aan Die Hoorn gesê Yolande is ’n baie talentvolle fietsryer. “Sy is soos ’n masjien en ken geen einde nie,” sê hy. Volgens Stransky het De Villiers hom baie aangemoedig. “As dit nie daarvoor was nie, sou ons beslis nie so goed gevaar het nie. Aangesien sy die wedren en die omgewing so goed ken, het sy my baie goeie leiding gegee.”

Hy vertel met ’n breë glimlag dat sy as hy soms kwaai moeg geraak en gesukkel het, net oor haar skouer geloer en met haar kop vorentoe beduie en gesê het: “Kom, Bokkie, kom!”

Dan het hy sy kop laat sak, vasgebyt en so hard as hy kon aanhou trap. “Ek wou nie vir Yolande in die steek laat en haar ophou nie,” het hy gesê.

Stransky was vol lof vir die CPT as fietsren. Hy sê hoewel dit ’n moeilike roete vol uitdagings is, is die omgewing waardeur dit lei, uitsonderlik mooi. “Wat my veral opgeval het, is die goeie gees tussen die deelnemers, beamptes en organiseerders. Daar is werklik ’n gees van kameraderie.”

Op haar beurt sê De Villiers (44) dit was veral aan die begin vir haar senutergend om saam met ’n “absolute sportikoon” soos Stransky te ry. Dit was egter ook ’n baie groot voorreg, voeg sy by.

“Hy het baie veggees. Ek kon sien hy het soms baie moeg geraak en swaar gekry. Ek het byvoorbeeld vir hom gesê ons stop nie by waterpunte nie. Hy het nooit kwaad geraak of daaroor gekla nie. Hy het net aangehou en uitgehou,” vertel sy. Volgens De Villiers het Stransky met die verloop van die ren al beter begin ry. Hulle het die vierde skof en die laaste skof gewen.

• De Villiers, wat beoog het om so-lo te ry, het ingewillig om saam met Stransky te ry nadat sy maat op die laaste oomblik onttrek het weens ’n krisis in sy familie.

Yolande laat Joel Stransky uithaal en wys!

Yolande laat Joel Stransky uithaal en wys!

Log in with your credentials

Forgot your details?