Koedoes hiér volop

2 DooieKoedoe

KOEDOES is veral volop in die omgewing van Calitzdorp, Kandelaarsrivier, Prins Albert, Die Gang, Uniondale en De Rust. sê Theresa van der Westhuizen van CapeNature.

Van der Westhuizen het met Die Hoorn gesels nadat twee voertuie in die omgewing die afgelope dae teen koedoes gebots het wat in die pad ingehardloop het – Dinsdag op die Ca­litzdorppad en Woensdag op die Mosselbaaipad naby Kan­de­laarsri­vier.

“Dit is ongewoon dat daar twee ongelukkige twee dae na mekaar is, maar tog is koedoes nie ongewoon in die streek nie,” sê sy.
Van der Westhuizen sê die droogte laat koedoes tans in die rivierlope beweeg waar daar kos is.

In een van die botsings die week, was Ben en Elsabe Campher Woensdagoggend van Hartenbos op pad toe ’n koedoe naby Kandelaarsrivier, sowat 15 km buite Oudtshoorn, voor hul Ford Kuga ingehardloop het.

Die Camphers was op pad na hulle plaas in die Olifantshoek-omgewing in die Noord-Kaap.

Hoewel hul voertuig erg in die botsing beskadig is, is die Camphers nie beseer nie.

Die koedoe is kort na die voorval van die toneel deur mense verwyder, maar hulle moes dit terugbring nadat CapeNature hulle daarop gewys het dat geen karkas van ’n toneel deur lede van die publiek verwyder mag word nie.

Van der Westhuizen sê spesiale permitte word benodig om ’n karkas te verwyder.

“Sou enige lid van die publiek ’n karkas verwyder, neem hy of sy verantwoordelikheid vir die ongeluk, en kan hy of sy verantwoordelik gehou word vir die onkoste. Hy of sy kan ook strafregtelik vervolg word vir die besit van ’n karkas van ’n wilde dier en ’n skulderkenningsboete van R2 500 of meer deur CapeNature opgelê word.”

• Van der Westhuizen vra dat mense wat in ’n botsing met ’n wilde dier betrokke is, CapeNature dadelik moet skakel sodat die regte prosedure gevolg kan word met die verwydering van die karkas. CapeNature se tel is 044 203 6300.

Log in with your credentials

Forgot your details?