Karoo-romans praat Karoo-Afrikaans!

Kirby van der Merwe die naweek by die Adam Small-fees in Pniel. Foto: Marlene Malan

Kirby van der Merwe die naweek by die Adam Small-fees in Pniel. Foto: Marlene Malan

Deur Marlene Malan
VIR die vertaling van Engelse boeke in Afrikaans is daar altyd ’n mark – veral as ’n uitgewer wéét die verta­ling gaan lesers aangryp.

En Carol Campbell se twee Karoo-romans, My children have faces en Esther’s House, wat in Afrikaans as Karretjiemense en ’n Huis vir Ester verskyn het, was vir seker gewild, te oordeel na verkoopsyfers.

So het die vertaler en joernalis Kirby van der Merwe verlede na­week op die Adam Small-fees in Pniël, tussen Stellenbosch en Fransch­hoek, gesê. “Karretjiemense en ’n Huis vir Ester was kommersiële vertalings vir ’n hoofstroomuitgewer, Penguin Random House. Frederik de Jager, wat toe by Penguin was, het my gevra om Esther’s House te vertaal nadat Karretjiemense so goed gevaar het.”

Volgens Van der Merwe is sowat 1 500 eksemplare van My children have faces verkoop, teenoor 20 000 van Karretjiemense. Cambell het die twee boeke geskryf toe sy en haar gesin in Prins Albert gewoon het waar haar man ’n vulstasie-eienaar was. “Daar’s sekere mense wat net ’n neus het vir ’n boek en die moontlikheid van ’n vertaling. Frederik is so ’n ou. Hy’t die potensiaal van dié boeke in Afrikaans gesien.”

Van der Merwe se eerste probleem met My children have faces, “was die titel. Ek kon net nie aan ’n geskikte vertaling dink nie. Toe gee ek dit maar solank ’n werkstitel – wat uit­eindelik die titel geword het”.

Die tweede kwessie wat inspanning geverg het, was die soort Afrikaans wat hy moes gebruik in die vertaling van ’n Engelse boek wat handel oor Afrikaanse mense. “Dit was ook die geval met my vertaling van Chris van Wyk se boek Eggs to lay, chickens to hatch, wat as Daar’s ’n hoender wat ’n eier nie kan lê verskyn het.”

Van der Merwe moes die taalregister in sy vertaling bepaal. “Ek moes heeltyd besluit… is dit nou Riverlea-Afrikaans, of Karoo-Afrikaans? Ek weet ek is in die eerste plek gevra om dié vertalings te doen oor ek bruin is, want dis my nis. Dis egter my plig as vertaler om die teks in leesbare Afri­kaans aan te bied. Leesbaarheid is die primêre doelwit. Ek matig my nooit aan nie, soos om byvoorbeeld Afri­kaans in die vertaling koddig te laat kink. Chris het byvoorbeeld van my Capey-Afrikaanse woorde in Standaardafrikaans verander.”

Dan is daar die kwessie van Kaaps, of Kaapse Afrikaans. “Mense praat deesdae van Kaaps asof dit één taal is. Maar ek weet of ’n spreker van Kaaps van Worcester of die Paarl kom, van Belhar of Bellville. Daar is selfs iets soos Drakenstein-Afrikaans en natuurlik Karoo-Afrikaans. Jy weet later presies, tot in ’n straat, waar iemand vandaan kom. Dit het ek geleer toe ek in die Paarl grootgeword het en daar op ons erf soms tot twintig backyard dwellers was.”

As hy dink iets gaan moeilik verstaan word, verduidelik hy dit deur ’n vertaling wat die begrip subtiel verduidelik. “As jy van Engels na Afrikaans vertaal, moet jy besef Afrikaans het sy eie lewe. Dis ’n taal wat beweeg soos ’n lokomotief.”

Log in with your credentials

Forgot your details?