Kannaland vereffen Eskom-skuld ten volle

Lede van die Kannaland munisipale raad en die munisipaliteit, van links Reynold Stevens, munisipale bestuurder, Bennie Strydom, hoof van finansies, Magdalena Barry, burgemeester, en Aletta Theron, speaker, wat baie bly is dat Eskom-skuld nou ten volle vereffen is.

Lede van die Kannaland munisipale raad en die munisipaliteit, van links Reynold Stevens, munisipale bestuurder, Bennie Strydom, hoof van finansies, Magdalena Barry, burgemeester, en Aletta Theron, speaker, wat baie dankbaar is dat die munisipaliteit se Eskom-skuld nou ten volle vereffen is.

Kannaland Munisipaliteit het sy uitstaande skuld van R12 miljoen by Eskom ten volle vereffen, het Magdalena Barry, burgemeester van Kannaland, so pas in ‘n mediaverklaring bekend gemaak.

Volgens Barry het die huidige raad die Eskom-skuldlas geërf vanaf die vorige Icosa-beheerde raad wat voortdurend in die nuus was weens bewerings van wanadministrasie en korrupsie.

“Ons het nie ons rug gedraai op ons uitdagings nie, en het die uitdagings heldhaftig en met hoop tegemoet gegaan,” het sy gesê.

Volgens Reynold Stevens, munisipale bestuurder, het Eskom in ‘n stadium gedreig om die dorp se krag af te sny nadat die vorige administrasie nie sy kragrekening betaal het nie.

“Ons moet die foute van die verlede erken en korrektiewe optredes in plek stel om ‘n gesonde finansiële grondslag vir die toekoms te skep. Ek is daarvan oortuig dat Kannaland Munisipaliteit goed op pad is om ons strewes te verwesentlik. Ons het binne ’n kort tydperk meer as die helfte van ons totale skuldlas van R70 miljoen betaal, en dit kan net lei tot ’n gesonde finansiële posisie.”

Barry het bygevoeg dat die munisipaliteit ’n geskiedenis het van wanadministrasie en swak finansiële bestuur onder leiding van die vorige Icosa-raad. “Ons as huidige raad is trots op ons prestasie en ons werk hard daaraan om die beeld en integriteit van die Munisipaliteit te herstel.”

Barry het ook haar dank uitgespreek teenoor Stevens en die hoof van finansies, Bennie Strydom, vir hul leierskap om die finansiële herstelplan van Kannaland Munisipaliteit te dryf. “Dit het vasbeslote en beginselvaste leierskap geverg om Kannaland op die regte pad te plaas,” het sy gesê.

Log in with your credentials

Forgot your details?