‘Hy was ’n goeie mens’

Guido Koert. Foto: Facebook

Guido Koert. Foto: Facebook

Deur Ilze-Mari Gründling
INWONERS, vriende en familie is die afgelope week geskok deur die skielike heengaan van Guido Koert, kaptein van Collegians Rugbyvoetbalklub op Oudtshoorn se eerste rugby span.

‘Hy was ’n baie goeie mens,” sê Seppie Ekstraal, afrigter van die Collegians-rugbyspan.

Koert se liggaam is Maandagmiddag in sy slaap­kamer deur familielede gevind. Vriende en familie vermoed dat hy ’n hartaanval gehad het.

“Hy was my kaptein, my regterhand. Hy het ’n wonderlike persoonlikheid gehad. Ons kan nie glo dat hy net so skielik weg is nie. Hy het ’n groot impak op baie mense se lewens gehad,” sê Ekstraal.

Ekstraal vertel dat hy en die rugbyspanne Dinsdag by Koert se huis bymekaar gekom het om die familie sterkte toe te wens.

“Almal het gehuil. Guido was ’n sterk leier en altyd ’n gentleman. Ons het nog verlede Saterdag ’n game teen Willowmore gespeel – hy het die span gelei tot ’n bonuspunt. Daardie aand het ons nog lank gesels. Alles was nog oraait.”

Marius May, hoofafrigter van Collegians, sê Koert se dood laat ’n groot leemte in almal se harte.

“Hy was kaptein van die jaar en het baie bygedra tot die span. Hy het die manne geleer van dissipline en hulle gemotiveer om hard te werk. Die samewerking tussen hom en die spanbestuurder was uitstekind en hy het ’n aandeel in die jaarbeplanning gehad. Ons gaan hom baie mis.”

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, doen die polisie ’n geregtelike nadoodse ondersoek.

Hy sê ’n lykskouing is gedoen en toon dat Koert nie aan ’n hartaanval dood is nie.

“Die uitslag van sekere toetse is egter nog uitstaande en sodoende is die oorsaak van sy dood nog nie duidelik nie.”

Log in with your credentials

Forgot your details?