Honderde by roudiens by Infanterieskool

Hy was ’n ‘broer en toegewyde soldaat’

Preston Titus en sy gesin. Van links is sy eggenoot Magdaleen en hul dogters Penelope (17) en Amore (14).                                                                                                 Foto: Facebook

Preston Titus en sy gesin. Van links is sy eggenoot Magdaleen en hul dogters Penelope (17) en Amore (14). Foto: Facebook

Deur Garnett Wicomb
HONDERDE soldate, gemeenskapslede en familie van die vermoorde soldaat, Preston Titus (63), as­ook die burgemeester van Oudtshoorn, Colan Syl­vester, en talle raadslede het gisteroggend die SANW Ouditorium op Oudtshoorn volgepak vir ’n roudiens wat die Infanterieskool vir Titus gehou het. Sy familie het spesiaal vir die diens vanaf Worcester gekom.

Familielede van die bedroefde weduwee van Titus, Magdaleen, ’n ANC-raadslid, het haar voortdurend ondersteun.

“Stafsersant Titus se dood het vir ons almal as ’n baie groot skok gekom. Maar ons is vandag hier om sy lewe te vier. Hy was ’n nederige en behulpsame man,” het die waarnemende bevelvoerder van die Infanterieskool, lt kol Moiketsi, in sy huldeblyk gesê. Hy het namens die bevelvoerder, kol Ntejane, wat in Pretoria was, en namens die SANW hul meegevoel betuig.

Ander kollegas van Titus het in hul huldeblyke Titus as ’n broer en toegewyde soldaat beskryf.
Reynold Titus van Worcester, broer van die oorledene, het die SANW en almal teenwoordig namens die familie vir hul ondersteuning bedank.

“Dit is duidelik dat my broer ’n groot impak gemaak het op almal met wie hy in aanraking gekom het,” het hy gesê.

Titus word Saterdag om 11:00 vanuit die Maranatha Kerk op Worcester begrawe.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?