‘Hoekom is my kind alleen binne?” vra ouma van Preston Titus-verdagte

hof-images-3-300x289
“Hoekom is my kind alleen binne? Dis mos nie reg nie.”

So het die ouma van die 23-jarige Cabiso Klip wat vir die moord op die soldaat, Preston Titus, aangehou word, Vrydagmiddag in die Oudtshoorn Landdroshof gevra nadat die saak vir ‘n borgaansoek tot Woensdag uitgestel is.

Landdros Roelf Konstabel het op versoek van die staatsaanklaer, Stephanie Levack, die saak ten spyte van heftige beswaar deur die verdagte se regsverteenwoordiger, adv Benito Metembo, uitgestel.

Familielede van die verdagte het hierna hardop hul ontevredenheid oor die uitstel laat hoor en hofordonnanse het hul hande vol gehad om orde te handhaaf.
Die vroue het tot buite die hofgebou hul misnoeë te kenne gegee en selfs Metembo moes verrassend onder hul skerp tonge deurloop.

Metembo het die hof gevra om ‘n borgaansoek aan te hoor omdat die beskuldigde reeds twee dae in aanhouding is en alle inligting aan die polisie verskaf het.
Volgens hom is dit onaanvaarbaar dat ‘n borgaansoek nie aangehoor kan word nie. Hy wou weet wie se skuld dit is dat die staat nie oor al die nodige inligting beskik nie en selfs gesê dat dit is omdat klip nie ‘n “wit man” is nie.

Hy het klaarblyklik verwys na ‘n man wat ‘n tyd gelede op Oudtshoorn vir moord in hegtenis geneem en nog dieselfde dag op borg vrygelaat is.

Die staasaanklaer het hierop teruggekap. “Die hof is nie die plek vir die tipe aanmerking en rassisme nie. Daar is prosedures wat gevolg moet word,” het sy gesê. “Dit is in belang van geregtigheid sowel as van die beskuldigde dat beide die staat en die verdediging goed voorbereid moet wees vir ‘n borgaansoek. Dit is nie verregaande of onaanvaarbaar om ‘n saak vir ‘n borgaansoek uit te stel nie.”

Een van die kwessies vir die uitstelling is die vasstelling van die beskuldigde se woonadres.

Die landdros het in sy uitspraak gesê dit is binne die wet om tot sewe dae uitstel te gee om al die nodige inligting vir ‘n borgaansoek te bekom. Die borgaansoek sal Woensdag aangehoor word.

* ‘n 37-jarige vrou wat saam met Klip in hegtenis geneem is, is Donderdagmiddag deur die polisie vrygelaat. (Berig deur Garnett Wicomb)

Log in with your credentials

Forgot your details?