Historiese hangbrug onbepaald gesluit

Die hangbrug tans. Die plankies word ver- moedelik vir brandhout gesteel.  Foto verskaf

Die hangbrug tans. Die plankies word vermoedelik vir brandhout gesteel. Foto verskaf

Deur Liesel le Roux
DIE hangbrug op Oudtshoorn is Dinsdagmiddag onbepaald deur die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit vir herstelwerk gesluit.

Die Hoorn het vroeër die dag navrae aan die munisipaliteit gerig oor die onderhoud van die brug en ’n gat – waar vyf dwarsplanke langs mekaar op die brug se loopvlak weg is – onder hul aandag gebring. Daar word vermoed dat die dwars­planke gesteel is vir brandhout.

Die munisipaliteit het hierna blitsig gereageer om die brug te sluit sodat herstelwerk kan begin.
Die direkteur van tegniese dienste, Chris Koch, het inwoners en toeriste versoek om nie die brug te gebruik totdat ernstige strukturele skade herstel is en die brug veilig vir gebruik verklaar is nie.
Die hangbrug is in 1964 tot nasionale ge­denk­waardigheid verklaar. Deesdae staan dié ge­denk­waardighede bekend as provinsiale erfenisgebiede.

Hazel Jonker van Heritage Oudtshoorn Erfenis (HOE) sê die organisasie sal waarskynlik daarom Erfenis Wes-Kaap moet kontak oor die herstel en opgradering van die brug vir hul goedkeuring.

’n Oudtshoorniet vir wie die opgradering en bewaring van die hangbrug na aan die hart lê, Kobus Nel, sê Oudtshoorniete moet besef dat die brug iets besonders is. “Ek stap gereeld oor die brug en kyk na die Swartberge wat deel is van ’n wêrelderfenisgebied. Ek glo die brug het groot toerismewaarde.”

Nel sê daar moet verder gegaan word as net om dwarsplankies te vervang, en dat die brug behoorlik opgegradeer en in stand gehou moet word. Hy het reeds met verskeie raadslede en amptenare hieroor in gesprek getree.

Log in with your credentials

Forgot your details?