Help kinderharte blymaak met Krismisbokse!

Christmas Shebox2

DIE Oudtshoorn Rotariërklub vra die gemeenskap van Oudtshoorn en omgewing se ondersteuning vir sy Krismisboksprojek om Kersgeskenke aan minderbevoorregte voorskoolse kinders te skenk.

Lezelma Pretorius, wat saam met Dalia Wilck die projek koördineer, sê die oogmerk is om aan die kleuters mooi versierde skoenbokse met dieselfde items daarin te oorhandig.

Die items is ’n inkleurboek met vetkleurkryte of -potlode, ’n tennisbal of iets soortgelyk, ’n pakkie jellielekkers, ’n tandeborsel en tandepasta, en ’n waslap en sepie. Die waarde van die skoenboks se inhoud is sowat R100.

“Ons vra inwoners wat ons oogmerk om kinders in die gees van Kersfees se harte bly te maak, om sommer self ’n skoenboks met die betrokke items daarin te versier.

“Inwoners kan egter ook net die items vir ons bring of R100 vir die projek skenk.
“Dan sal ons dit in ’n skoenboks sit en versier,” sê Pretorius.

Wilck het Oudtshoorn se besighede genooi om ook betrokke te raak met bydraes.

Geskenkpakkies, die betrokke items of kontant kan by Duvenage, Keyser & Jonck se kantore te Baron van Reedestraat 84 (oorkant Little Bo Peep-kleuterskool) afgegee word.

Pretorius (0845823415), Wilck (0846200977) en Suné Rupping, president van die Oudtshoorn Rotariërs (0823097834), kan ook gekontak word om die bydraes te kom oplaai.

Verskeie hoërskole, laerskole en kleuterskole ondersteun ook die projek met bydraes wat ingesamel en geskenkpakkies wat versier word.

Rupping sê daar is duisende behoeftige voorskoolse kinders in die Groter Oudtshoorn. “Hoe groter ondersteuning ons van die gemeenskap kry, hoe meer kinders se harte kan ons blymaak,” sê sy.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?