Heldedaad van ’n gewone ma

• Sesjarige oorleef ná onbekende tydperk onder yskoue water

Lizzie Hendriks met haar dogtertjie Abigail (6) wat sy uit ’n swembad gered het nadat die kleinding etlike minute lank in die yskoue water op die bodem van die swembad was. Dit was die week wat die sneeu wit op die berge van die Klein Karoo gelê het.  Foto: Schalk le Roux

Lizzie Hendriks met haar dogtertjie Abigail (6) wat sy uit ’n swembad gered het nadat die kleinding etlike minute lank in die yskoue water op die bodem van die swembad was. Dit was die week wat die sneeu wit op die berge van die Klein Karoo gelê het. Foto: Schalk le Roux

Deur Liesel le Roux
SY het gedink haar kind is dood toe sy haar liggaampie in ’n gehurkte posisie op die bodem van die swembad gesien het, sê Lizzie Hendriks oor dié skrikwekkendste ervaring van haar lewe.

Hendriks het die afgelope Saterdag die verstommende verhaal aan Die Hoorn vertel van hoe sy op Vrydag, 21 Julie, haar kind se lewe op ’n afgesonderde plaas – sonder enige hulp of vervoer – gered het.
Haar enigste hulpmiddels was haar instink as ma om haar 6-jarige Abigail se lewe te red, en ook dit wat sy al op TV gesien en in boeke gelees het.

Hendriks werk as huishulp vir Joel Immermann op die afgesonderde en bergagtige plaas Buffels Valley sowat 10 km buite De Rust aan die Willowmorepad. Sy het die oggend die sowat 2 km vanaf die plaas Aangenaam aan die ander kant van die grootpad gestap om Immermann se buurman se huis laer af teen die berg te gaan skoonmaak.

En dié keer het sy vir Abigail en ’n maatjie, Jessica, saamgebring. Daar was nie die oggend iemand ander op die plaas nie.

“Abigail het gekla sy is honger. Ek het gevra hulle moet net ’n bietjie speel en wag. Maar toe pla iets my en ek besef ek hoor nie meer die kinders se stemme nie. Ek het vir hulle geroep. Hulle het nie geantwoord nie.

“Toe kom Jessica met die pad na die huis toe aangehardloop en skree: ‘Tant Lizzie, Abigail is onder die water! Tant Lizzie, Abigail kan nie op nie! Tant Lizzie, Abigail is dood!”
Sy het besef haar kind het in Immermann se swembad geval wat sowat 80 meter is van die huis waar sy gewerk het.

Al wat sy kan onthou, is dat sy alles gelos het en die opdraande sy vinnig as wat sy kon uitgehardloop het na die swembad.

“Toe ek by die garage naby die swembad kom, het ek na haar begin roep, maar sy het nie geantwoord nie. Toe ek bo kom, sien ek my kind sit in ’n gehurkte posisie onder die water. Ek het met my klere in die water gespring en met haar na die vlak kant geswem.”

Hendriks het haar kind op die sementblad langs die swembad neergesit. “Ek het geroep en gesê: ‘Abigail, hier is mammie!’ Maar sy was slap en ek kon nie haar hartklop hoor nie.”

Hendriks het begin om mond-tot-mond-asem-haling op haar kind toe te pas soos sy al op TV gesien en in boeke gelees het, vertel sy verder. “Toe druk ek haar neus toe en blaas op haar mond en druk op haar bors. Daar het water by haar mond uitgekom.” Sy het die prosedure drie keer herhaal en elke keer het daar water uitgekom.

“Die hele tyd het ek geroep: ‘Abigail, hier is mammie!’”

Sy het intussen vir Jessica gestuur om haar baadjie te gaan haal en haar dogtertjie in haar baadjie toegedraai. Sy het met Abigail in haar arms na die huis gedraf en haar onder ’n warm stort gehou.
“Ek het haar toegemaak met die baadjie en buite in die son met haar gaan sit. Maar sy wou nie bykom nie.

“Toe val ek op my knieë en ek bid – met haar steeds in my arms. Ek praat met die Here bokant my en vra vir Hom hoekom dan sy. En terwyl ek bid, toe hoor ek Abigail roep: ‘My ma, ek is honger! Waar’s jy? Waar’s my pa?’”

Hendriks se wange is nat as sy die oomblikke herleef. “Ek is hier om te kan sê hoe bly ek is die Here het my kind vir my teruggegee.”

Hendriks sê toe sy later die dag met haar kind in die arms begin terugstap na hul huis op Aangenaam, het sy eers haar twee seuns Andrew (11) en Jade (13) teëgekom. Hulle het gedink hul suster is dood omdat Jessica plaas toe gehardloop het om die gemeenskap oor die voorval in te lig.

“By die dam op die plaas het almal vir my ge­staan en wag – want ook hulle het gedink die kind in my arms is dood,” vertel Hendriks.

“Die eerste ding wat ek gedoen het toe ek by die pad kom, was om na haar hart te luister. En toe kon ek dit hoor klop.”

Abigail is die Vrydagaand in die Oudtshoorn Hospitaal opgeneem nadat sy siek en warm begin voel het, maar ná observasie, X-strale en toetse is sy die Sondag ontslaan.

“Die dokter het eers vir my gesê dit kan nie wees dat Abigail so sonder nagevolge deur alles gekom het nie, maar nadat hy die hele storie gehoor het, het hy vir my gesê ek is sy hero.”

• Dit was nie die eerste keer dat mense wonderbaarlik op dié plaas oorleef het nie.
Immermann vertel dat ses werkers ’n paar jaar gelede nie ver daarvandaan nie op wonderbaarlike wyse ongeskonde uit die wrak van ’n Landrover geklim het nadat dit teen ’n afgrond langs ’n steil bergpad afgestort het toe die remme ingegee het.

Om die waarheid te sê, het nie een van die mans enige beenbreuke of ernstige beserings opgedoen nie, vertel hy.­

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?