Haweloses van Vredestraat kry huis

Van Vredestraat se hawelose mense Donderdagmiddag op die sypaadjie waar hulle maande lank buite gewoon het. Die mense is gister  deur die Oudtshoorn Munisipaliteit in die Oudtshoorn Skuiling in Jubileestraat hervestig.                                            Foto: Schalk le Roux

Van Vredestraat se hawelose mense Donderdagmiddag op die sypaadjie waar hulle maande lank buite gewoon het. Die mense is gister deur die Oudtshoorn Munisipaliteit in die Oudtshoorn Skuiling in Jubileestraat hervestig. Foto: Schalk le Roux

Deur Liesel le Roux
DIE Oudtshoorn Munisipaliteit het gistermiddag die hawelose mense wat die afgelope maande op die sypaadjie in Vredestraat oorkant die munisipale gebou woon, na ’n nuwe skuiling vir hawe­loses verskuif.
Dit volg na maandelange gesprekke en ini­siatiewe van die munisipaliteit om alternatiewe verblyf vir die mense te vind.

Hulle is gister hervestig in die Oudtshoorn Skuiling in Jubileestraat. Dié huis waarin die skuiling is, het voorheen bekend gestaan as die Malinbongwe Skuiling, en is een van drie geboue wat die munisipaliteit in Maart vanjaar aan die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling beskikbaar gestel het om haweloses, kinders op straat en mishandelde vroue te huisves.

Volgens die burgemeester, Colan Sylvester, het baie Oudtshoorniete hul kommer teenoor die munisipaliteit uitgespreek oor die omstandighede waarin die mense leef en die koue wat hul moet verduur. “Ons het nie net gehoor gegee aan versoeke van die publiek om die mense by te staan nie, maar wou ook ons verantwoordelikheid teenoor families nakom,” het hy gesê.

Die burgemeesterskomitee het Maandag aanbeveel dat die huis in Jubileestraat 47 as ’n skui­ling vir haweloses gebruik moet word.

Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, woord­voerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, het die munisipaliteit sedert Maart herhaaldelik probeer om aan die mense – die meeste van hulle is families – alternatiewe verblyf te verskaf, maar het die meeste net weer teruggetrek na Vredestraat toe.
Die munisipaliteit het selfs boumateriaal aan van die mense beskikbaar gestel en in party gevalle strukture vir hulle gebou.

Die munisipaliteit se departement menslike nedersettings het met al die mense onderhoude gevoer om vas te stel waarom hulle uit hul oorspronklike blyplekke getrek het om in Vrede­straat te kom woon. “Tydens die onderhoude het dit duidelik geword dat ’n merkbare deel van hul probleme verband gehou het met konflik met fami­lie en of vriende.”

• Die Oudtshoorn Skuiling in Jubileestraat word deur drie personeellede beman. Die munisipaliteit het inwoners aangemoedig om hul hande en harte oop te maak en die skuiling te ondersteun sodat dit as ’n ware tuiste vir mense ingerig kan word. Hulle versoek ook dat donasies eerder aan die skuiling gemaak word as aan mense op straat.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?