In Groote Schuur ná laatnag-botsing

Die wrak van die Golf waar dit in die vroeë oggendure van Sondag teen die heining van Laerskool van Reede tot stilstand gekom het. Foto: Liesel le Roux

Die wrak van die Golf waar dit in die vroeë oggendure van Sondag teen die heining van Laerskool van Reede tot stilstand gekom het. Foto: Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux
’N JONG man van Oudtshoorn word in die Groote Schuur Hospitaal in Kaapstad behandel nadat hy Sondagoggend (26 November) in die vroeë oggendure ernstig beseer is in ’n botsing in Langenhovenweg.

Fagan Hendricks is die nag in die Oudtshoorn Hospitaal se noodeenheid behandel nadat die Volks­wagen Golf waarmee hy gery het, in Langenhovenweg teen die heining van Laerskool Van Reede tot stilstand gekom het.

Volgens Nadia Ferreira, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse Departement Gesondheid in die Eden Distrik, het Hendricks hoofsaaklik kop- en gesigsbeserings opgedoen en is hy die nag na die George Hospitaal oorgeplaas vir verdere behandeling. betrokke was.

Bianca Carls, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid, sê Hendricks is intussen na die Groote Schuur Hospitaal oorgeplaas vir verdere behandeling. Volgens haar is sy toestand stabiel.

Volgens ’n inwoner van die omgewing het hy omstreeks 00:30 ’n voertuig vinnig met Langenhovenweg hoor afry en die volgende oomblik ’n harde slag gehoor.

Persone op die toneel het beweer dat die Golf teen ’n hoë snelheid met Langenhovenweg uit die rigting van die dorp gery gekom het toe die be­stuurder beheer oor die voertuig verloor het.

Volgens bandmerke het die voertuig oënskynlik buite beheer oor beide bane getol. Stukke van die voertuig en gebreekte glas het verstrooi gelê op die toneel terwyl die paal van ’n padteken naby die hoek met Hoogstraat wat heeltemal uit die grond gery is, meters verder in die pad gelê het.

Polisiebeamptes en ambulanspersoneel het lank gespook om die bestuurder uit die motor te bevry. Hy is later geruime tyd in die ambulans behandel voordat hy na die hospitaal geneem is.

Die Oudtshoorn Polisie het sedert Sondag nie op herhaalde navrae van Die Hoorn oor die bot­sing en oorsaak daarvan gereageer nie. Die Hoorn kon daarom ook nie talle ander bewerings verifieer nie, onder meer dat daar ook ’n ander persoon of persone in die Golf was tydens die botsing nie.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?