Polisie moet ingryp met groot drama buite hofgebou

Deur Garnett Wicomb
DAAR was Woensdag groot drama buite die landdroshof op Oudts­hoorn toe lede van die publiek en familielede van ’n ver­dagte in die moord van Pres­ton Titus (47) mekaar in die hare gevlieg het.

Dit het gebeur nadat die borgaansoek van Cabiso Klip (23), wat in verband met die moord op Titus aan-gehou word, tot Maandag uitgestel is saam met die nuus dat ’n tweede verdagte gister in Port Elizabeth in hegtenis geneem is.

Die A-hof was van vroeg af stamp­vol met familielede van Klip (23) en lede van die publiek wat vroeër die oggend ’n plakkaatbetoging buite die hofgebou gehou het en ’n memorandum teen borgtog aan hooflanddros Jaco Lambrechts oorhandig het.

Die Polisie moes buite die hofgebou tussenbeide tree.

Een van die opstandiges wat tot bedaring gebring moes word, was Ellen Prins, provinsiale ANC-parlementslid, wat glo erg deur ’n familielid van die verdagte beledig is.

’n Broer en suster van Titus het spesiaal van Worcester gekom om die hofverrigtinge by te woon.
Die staatsaanklaer, adv Goodman Jaxa, het die hof versoek om die borg­aansoek in belang van ge­reg­tigheid nog ’n paar dae uit te stel.

Volgens Jaxa het die moord die hele gemeenskap van Oudtshoorn geruk en is daar selfoonrekords wat die verdagte met die misdaad ver-bind. Titus is glo wreed vermoor.

Hy het die hof ook meegedeel dat ’n tweede verdagte in hegtenis geneem is. “Die staat is dus nie in ’n posisie om met die borgaansoek voort te gaan nie,” het Jaxa gesê.

Klip se regsverteenwoordiger, adv Benito Metembo, het hewig beswaar aangeteken. Hy wou weet watter re­le­­vansie die inhegtenisneming van nog ’n verdagte op die borgaansoek het. ’n Borgaansoek van Klip is Vrydag ook uitgestel. Volgens Metembo is dit onredelik om Klip aan te hou op grond van bewerings.

Log in with your credentials

Forgot your details?