Groen swembad-verleentheid

Oudtshoorn se groen swembad. Bo is die NA Smit Swembad Dinsdagaand net voor die aanvang van die SWD Tweekamp-swemproewe. Die foto regs is die middag geneem enkele ure voordat die byeenkoms begin het. Dit toon die groen water en erg gekraakte sementblokke langs die swembad. Foto’s: Liesel le Roux

Oudtshoorn se groen swembad. Bo is die NA Smit Swembad Dinsdagaand net voor die aanvang van die SWD Tweekamp-swemproewe. Die foto regs is die middag geneem enkele ure voordat die byeenkoms begin het. Dit toon die groen water en erg gekraakte sementblokke langs die swembad.  Foto’s: Liesel le Roux

1 Swembad middag

• Kommer oor swak onderhoud van sportgeriewe

Deur Liesel le Roux
GROEN water en ’n gebrek aan onderhoud. Dit som die toestand op van die NA Smit-swembad in Parkweg, Oudtshoorn, Dinsdagaand toe deelnemers vanoor die hele streek daar aan die SWD-tweekampproewe deelgeneem het.

Die toestand van die swembad, wat onder die beheer van die Oudtshoorn Munisipaliteit val, het soveel verleentheid veroorsaak dat SWD Twee­kamp die volgende verskoning ná die byeenkoms op sy Facebook-blad geplaas het: “SWD Twee-kamp vra alle atlete om verskoning vir die ‘groen’ swembad. Dit is egter buite SWD Tweekamp se beheer aangesien dit die Oudtshoorn Munipaliteit se verantwoor-delikheid is. Dit blyk nou ’n gereelde probleem te word en kan lei tot die verlies van groot galas vir Oudtshoorn. Dit op sigself gaan die ekonomiese inspuiting met miljoene benadeel. Sporttoerisme kan net skade ly. Daar is min dorpe in die land wat kan spog met beter sportfasiliteite, maar swak of geen onderhoud nie doen beslis afbreuk daaraan.”

Die munisipaliteit het gister om versko-ning gevra vir die toestand van die swembad en aangedui dat ’n ondersoek reeds aan die gang is en tot moontlike tugoptrede teen amptenare kan lei.

Volgens Aurelia Oliphant, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, het die munisipaliteit met kommer kennis geneem van klag­tes oor die toestand van die swembad Dinsdag.

“Dit is ongelukkig so dat die twee dae se reën voor die byeenkoms ’n impak op die swembad se water gehad het, maar die moontlikheid dat van die amptenare hul pligte nagelaat het, is nie uitgesluit nie.
“’n Ondersoek om te bepaal wat die oorsake is van die slegte toestande voor die byeenkoms word geloods met die oog op moontlike dissiplinêre stappe.

“Die munisipaliteit (Gemeenskaps­dienste) streef daarna om die beste diens te lewer en wat ons met die NA Smit Swembad ervaar het, is eenvoudig onaanvaarbaar.”

Die uittredende voorsitter van SWD Tweekamp, Dave van der Walt, het gister gesê hy is moedeloos met die munisipa-liteit omdat dit nie die eerste keer is dat die swembad ’n verleentheid is nie.

Volgens hom het hy die afgelope twee weke gereeld met amptenare oor die swembad gepraat en gevra dat hulle die swembad en terrein moet gereed kry vir die proewe, maar dit het niks gehelp nie.

“Ek is raad-op. Ek is op baklei oor die jare. Ons loop ons teen ’n muur vas. Die swembad is al in Maart of April vanjaar bespreek vir die proewe. Ons betaal baie geld daarvoor.”

Van der Walt sê die water was so troebel dat die swemmers nie die strepe op die bodem kon sien wat hulle moes help om in hul lane te bly nie.

“Daar kom nog groot galas. Gaan die swembad dan reg wees?” wou hy gister weet.

Volgens Van der Walt het die ligte onder die afdak waar die beamptes gesit het, nie gewerk nie. Talle muurproppe werk nie en die klankstelsel moet met verlengingskoorde, wat hulle van die huis af moes saambring, aan die muurproppe wat nog werk, gekoppel word.

“Daar word van ons as sportadministrateurs verwag om groot sportbyeen-komste na Oudtshoorn te bring, maar die munisipaliteit ondersteun ons nie.

“Op die tartanbaan waar atlete ook Dinsdag deelgeneem het, is stukke van die baan by die wenpaal weg. Hoe oortuig jy onder sulke omstandighede enig­een om groot byeenkomste na Oudts- hoorn te bring?”
Sportbyeenkomste bring miljoene ran­de in Oudtshoorn in wat die dorp nie kan bekostig om te verloor nie, sê Van der Walt.

• Die toestand van die swembad is Dinsdagmiddag onder die aandag van Die Hoorn gebring. Met ’n besoek omstreeks 15:30 het ’n handvol munisipale werkers geskarrel om die gebou by die swembad en die terrein skoon te maak. Dit was duidelik dat die terrein en swembad nie vooraf aandag gekry het nie.

Die vloere was vuil, teëls in die gebou waardeur besoekers na die swembad stap, is duidelik vroeër die dag waar­skynlik inderhaas vervang; met die sement om die teëls wat sigbaar nog klam was.

Die aand met die aanvang van die byeenkoms was die sementknippies wat dié nuwe teëls in plek moes hou terwyl die sement nat was, nog nie verwyder nie.

Die gebied om die swembad het ook sigbaar instandhouding nodig. Van die sementblokke langs die swembad is tans vol groot barste.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?