Gewilde bussie slagoffer van George-pad

Die Potgieter-bussie Maandag na die botsing op die George-pad. Foto verskaf

Die Potgieter-bussie Maandag na die botsing op die George-pad. Foto verskaf

Deur Ilze-Mari Gründling
DIE Oudtshoorn Polisie ondersoek ’n saak van roekelose en nalatige bestuur nadat ’n blou Uno Fiat en die bekende Quantum Potgieter-bussie van Oudtshoorn Maandagaand in ’n botsing op die George-pad betrokke was.

Sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, sê die Uno was omstreeks 19:20 op pad George toe toe dit na bewering bane moes verwissel om ’n botsing met ’n blou BMW 518 wat uit die teenoorgestelde rigting gekom het, te verhoed. In die proses het die Uno die Potgie­ter-bussie getref.
Volgens André Potgieter, bestuurder en eienaar van die Potgieter-bussie, was hy en agt passasiers onderweg na Oudtshoorn toe die botsing plaasgevind het.

“Dit was nog nie donker nie. Die BMW het tussen 400 en 500 meter voor my gery. Hy het heeltyd so heen en weer oor die wit streep gery. Ek het gesien iets is nie reg nie en het stadiger gery. Ons het net om die perdeskoendraai gekom toe dit gebeur. Die BMW het egter weggejaag.”

Volgens Potgieter is dit die eerste keer in die nege jaar wat hy die vervoerdiens het, dat die bussie in ’n ongeluk betrokke is. Niemand in die bussie is beseer nie. Drie van die vier insittendes van die Uno is lig beseer.

Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid, sê ’n man van George is met ’n fraktuur en sagteweefsel-beserings in die Oudtshoorn Hospitaal opgeneem.
Hy is Dinsdag na die George Hospitaal oorgeplaas.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?