Gesteelde perde terug by Eljada

Veilig tuis! Heida Botha, perdryterapeut, by die twee perde wat Sondagoggend gesteel is. Foto: Ilze-Mari Gründling

Veilig tuis! Heida Botha, perdryterapeut, by die twee perde wat Sondagoggend gesteel is. Foto: Ilze-Mari Gründling

Deur Ilze-Mari Gründling
DRIE verdagtes, waarvan twee 14-jarige seuns is, is volgens die Oudtshoorn Polisie “geïndentifiseer” nadat twee perde Sondagoggend by die Eljada Nasorgsentrum gesteel is.

Volgens Wilma Lemmer, bestuurder van die sentrum, bied Heida Botha perdryterapie by die sentrum aan met die hulp van vier inwoners wat onder haar leiding die twee perde en stalle versorg. Hierdie inwoners het die oggend agtergekom dat die perde weg is.

“Sondagoggend voor ontbyt het dié inwoners soos gewoonlik na die stalle gegaan om die perde te versorg. Hulle sien toe dat die drade middeldeur geknip en die staldeure oop is. Die perde was weg!”
Lemmer sê die polisie is ontbied en met hulle hulp asook die hulp van die perde-eienaars Mieke Burger en Radie Loubser en lede van die Facebook-groep Oudtshoorniete Staan Saam is die perde gevind.
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is die twee perde die og­gend deur polisiebeamptes in die Riemvasmaak-omgewing opgemerk. “Die perde is teruggeneem en die veediefstaleenheid ondersoek die saak,” sê Visser.

Visser sê ’n saak van veediefstal word deur die polisie ondersoek. Dit sal aan die staatsaanklaer voorgelê word vir beslissing voordat met die saak voortgegaan sal word.

Lemmer het namens Eljada almal bedank wat gehelp het om die perde terug te besorg.

“Ons wil graag vir Radie bedank dat hy sy per­de­vervoerwa in dié noodsituasie beskikbaar gestel het. Die bestuur het waardering vir Heida en die be­trokke inwoners se liefde en omgee vir die perde.”

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?