Genoeg water vir Groter Oudtshoorn se mense

water

So kan toekoms lyk

 

’N kombinasie van oppervlak- en ondergrondse water sal waarskynlik in die toekoms no­dig wees om in die somer genoeg water vir die inwoners van die Groter Oudtshoorn te voorsien, sê Kobus du Toit, assistentstadsingenieur van Oudtshoorn.

Die Hoorn het gaan kers opsteek by Du Toit nadat die munisipaliteit twee weke gelede deur die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering en omgewingsake, Anton Bredell, tot plaaslike rampgebied verklaar is. Dit volg op watertekorte elke somer in De Rust en in die gebied wat bedien word deur boorgate van die Klein Karoo Landelike Watervoorsieningskema (KKLWVS).

Watervoorsiening in De Rust is afhanklik van die vloei van die Huisrivier, terwyl die KKLWVS se boorgate water voorsien aan Dysselsdorp en die landelike gebied langs die Olifantsrivier vanaf Vlakteplaas in die ooste tot by Calitzdorp. Dit sluit gebiede soos Volmoed en die Kliplokasie in.

In die somer is die aanvraag te groot vir volhoubare lewering deur die KKLWVS.

Du Toit sê aansluitings na landelike nedersettings en nuwe eienaars die laaste 15 jaar plaas groot druk op die volhoubaarheid van die skema, wat ontwerp is om water aan Dysselsdorp te voorsien (ongeveer 50%) en aan landbougebiede vir huishoudelike gebruik en veesuipings.

 

Die oplossing vir De Rust en Dysseldorp?

Hoewel van die boorgate by Dysseldorp wat gevandaliseer is weer in bedryf gestel kan word, sal nuwe waterbronne ontgin moet word om die skema se toekoms te verseker. Nuwe potensiële oppervlak- en grondwaterbronne is reeds vir die KKLWVS geïdentifiseer en die potensiaal daarvan sal binnekort bepaal word, sê Du Toit.

In die geval van De Rust sal die leweringspotensiaal van die noordelike waterdraende Tafelberg-sandsteenformasies binnekort ondersoek word. Du Toit sê grondwateronttrekking moet egter altyd ver­antwoordelik bestuur word om volhoubare lewering te verseker. Dienste van professionele hidrogeoloë is reeds verkry om die proses wetenskaplik te bestuur.

Watertekorte in dié gebiede is een van die redes waarom die munisipaliteit betrokke is by die diepwaterondersoek by Blossoms. Dié ondersoek duur egter lank en om ’n pyplyn aan te lê, sal baie duur wees. Daar moet ook nog heelwat toetse gedoen word voordat die koste verbonde aan die Blossoms­projek en die bedryf daarvan akkuraat bepaal sal kan word.

Du Toit sê leweringstoetse op bestaande produksie- en eksplorasiegate in die Blossomsgebied dui daarop dat groot volumes water vir relatief kort periodes gelewer sal kan word, maar dat die lewe­ringstempo drasties afneem oor langer tydperke. Dit wil dus voorkom of Blossoms as ’n wateraanvullingsbron van Oudtshoorn se oppervlaktebronne kan dien en waarskynlik voordelig benut sal kan word tydens droogteperiodes.

 

Oudtshoorn – ’n nuwe dam?

Anders as De Rust en Dysselsdorp ondervind Oudtshoorn nie tans waterprobleme nie. Die Mell­ville- en die Raubenheimerdam is onderskeidelik 100% en 95% vol te danke aan reën en wintersneeu op die Swartberge.

“Oudtshoorn kan egter nie oorgerus wees nie. Die dorp sal moet groei om te oorleef en om dit te bewerkstellig, sal sy bestaande waterbronne aangevul moet word.”

Volgens Du Toit deel Oudtshoorn die water van die Raubenheimerdam met besproeiingsboere en maak dit sin om ’n aparte besproeiingsdam vir die landbou te ondersoek. “Gesien in die lig van die huidige onsekere aspekte en koste verbonde aan die Blossomsprojek en die voordele wat so ’n dam vir besproeiers sal inhou (loslatings na gelang van behoefte) en die Oudtshoorn Munisipaliteit self (geen addisionele suiweringswerke, pyplyne, ’n groter versekerde lewering) is dit net logies en noodsaaklik dat hierdie projek nou daadwerklik verder gedryf word deur die nuwe bestuur van Oudtshoom Munisipaliteit.”

 

(Deur Liesel le Roux)

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?