Geen borg ná 2 aanval en roof

hof-images-3-300x289

• Aanval op bejaarde by plaaswinkel buite Oudtshoorn

Deur Garnett Wicomb
NIE een van die twee mans wat daarvan aangekla word dat hulle Frans Tredoux (75) op 29 Mei by sy plaaswinkel op Stolsvlakte oorval, aangerand en beroof het nie, kon daarin slaag om borgtog te kry nie.

Die twee beskuldigdes. Ronaldo Olkers (19) en Koos van der Ross (53), word van roof met verswarende omstandighede aangekla nadat hulle glo op Maandag 29 Mei Tredoux by sy plaaswinkel ingewag en oorrompel het.

Hy is met ’n mes gesteek, met ’n knopkierie geslaan en van R200 beroof.

Die twee is bekend aan Tredoux en hulle is die volgende dag in hegtenis geneem.

Van der Ross, wat op parool was ten tye van die voorval, moes sy borgaansoek laat vaar nadat sy parool deur landdros Lorraine Samuels ingetrek is.

Olkers het op sy beurt in sy borgaansoek getuig dat hy nie vir Van der Ross ken nie en dat dit hy en sy neef, Martin Olkers, was wat Tredoux aan­geval en beroof het.

Volgens hom het hulle die oggend saam gedrink toe sy neef glo aan hom gesê het: “Kom ons gaan roof die oubaas”.

Sy getuienis was vol teenstrydighede.

Hy kon nie presies sê wat sy woonadres is nie en het ook nie geweet wat sy skoonma se naam is nie.
Hy het erken dat hy Tredoux met ’n knopkiere oor sy ribbes geslaan en met ’n mes gesteek het.
Volgens hom het sy neef buite die winkel wag gehou om te kyk of niemand aankom nie. Hy het die geld gevat om aartappels, rys en “sulke goed” te gaan koop.

Die staatsaanklaer, Van Premchand, het die toe­staan van borg aan Olkers teengestaan omdat hy ’n vlugrisiko is en Tredoux lewensgevaarlike beserings opgedoen het.

Op ’n vraag van die landdros waarom hy so deurmekaar praat, het Olkers geantwoord dit is omdat hy nie tronk toe wil gaan nie.

Die saak is vir ver­de­re ondersoek tot 20 Ju­lie uitgestel.

Log in with your credentials

Forgot your details?