‘Ek voel soos Job’

TOE haar man twee jaar gelede oorlede is, het Maggie Fourie ingespring en die Oudemuragie Gasteplaas uitgebou tot die paradys wat sy gevisualiseer het.

Maar nou na die verwoestende brand van Desember is daar niks oor van dié paradys nie en is sy haar inkomste kwyt.

Sy wys na die berge op haar grond – eens bedek met ruie plantegroei waardeur verskeie staproetes gekronkel het; eens die tuiste van reuse aalwyne – sommige glo bykans 200 jaar oud, kiepersolle, vaderlandswilge, ouhoutbome. Fourie glo dit kan tot 50 jaar neem voordat dié gebied weer tot sy eertydse glorie herstel kan word.

Al wat te sien is, is roetbedekte heuwels met die staproetes soos kaal are tussen die verbrande bome.

En na ’n stortbui verlede Donderdag het die roet in die riviere en damme beland en is die water op haar plaas pikswart en ondrinkbaar.

Maggie is nie oortuig dat dié ramp nie voorkom kon word nie. Volgens haar het brandspanne dae lank naby haar plaas gesit en na die brand gekyk, maar niks gedoen nie. Sy glo hulle kon die brand geblus en voorkom het dat dit na buurplase versprei het.

“Ek het die brandspanne gewaarsku,” sê sy. “Dit is die grootste ramp wat die Oudemuragievallei nog beleef het – ’n ramp vir mens en dier. Ek het nie water nie, ek het net een land oor vir my 350 skape en 12 beeste. Waar gaan die bokkies water kry, en die ganse? Ek weet regtig nie waarheen nie.”

Sy sê sy moes voornemende besoekers se verblyf kanselleer.

“Gebed het die brand gestop, nie brandspanne nie. Daar het so baie mense gebid – in my huis, in die Kaap, oral en toe het die vlamme dood­gereën.”

Fourie sê sy kan nie die omvang van haar skade kan bepaal nie.

“Ek voel soos Job,” sê sy terwyl sy oor die verskroeide aarde om haar rondkyk.

Justin Lawrence, skakelpersoon van CapeNature, het op navraag van Die Hoorn gesê grond­eienaars wat voel dat brandspanne nie hul kant gebring het nie, moet hul klagtes direk onder CapeNature se aandag bring.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?