Eerste agt van 335 huise in Rosevalley oorhandig

 Foto's Gert en Martha Julies saam met burgemeester Colan Sylvester.


Foto’s
Gert en Martha Julies saam met burgemeester Colan Sylvester.

Deur Garnett Wicomb
DIE sleutels van die agt voltooide huise in Fase 2 van die Rose Valley-behuisingsprojek van die Oudtshoorn Munisipaliteit is vanoggend tydens ’n spesiale geleentheid deur die uitvoerende burgemeester, Colan Sylvester, aan die begunstigdes oorhandig.

Die huise maak deel uit van 335 huise wat langs die De Rust-pad gebou word en vervang die onooglike plakkershutte van vroeër.

Gert en Martha Julies van Wynandsrivier wie se name tien jaar lank op die munisipale beuisingswaglys was, was die gelukkige egpaar wat die eerste huis in ontvangs geneem het.

“Ek kan nie beskryf hoe ek voel nie. Ek kan net dankie sê aan ons Hemelse Vader dat ons uiteindelik ons eie geboude huis het,” het ’n emosionele Martha Julies gesê.

Sy het ook haar dank teenoor die munisipaliteit uitgespreek.

Wykraadslid Jerome Lambaatjeen se boodskap aan die begunstigdes was dat die huise ’n erfstuk vir hul families is.

Die burgemeester het die agt begunstigdes geluk gewens met hul nuwe wonings en beroep op hulle gedoen om dit op te pas en nie vir ’n appel en ’n ei te verkoop en dan weer op straat te sit nie.

“ ’n Eie huis bring ook groter verantwoordelikhede,” het hy gesê.

Volgens Johan Fourie, burgemeesterskomiteelid verantwoordelik vir tegniese dienste wat behuising insluit, sal voortaan elke twee of drie weke huise aan begunstigdes oorhandig word soos die huise voltooi word.

“Huise wat voltooi word, sal so spoedig moontlik aan die begunstigdes oorhandig word om vandalisme te voorkom,” het Fourie gesê.

Die Rose Valley-behuisingsprojek bestaan uit drie fases waarvan die eerste fase (299 huise) reeds vroeër voltooi is.

Die 335 wooneenhede in Fase 2 bestaan uit 67 enkeleenhede, 46 skakelhuise en 222 duplekseenhede. Dit is die eerste keer dat skakelhuise en duplekseenhede deel uitmaak van so ’n projek op Oudtshooern.

Bouwerk aan 332 wooneenhede.(Fase 3) sal afskop sodra al die eenhede in fase 2 voltooi en oorhandig is.

Na verwagting sal Fase 3 in Desember 2018 voltooi wees, wat die totale aantal huise in Rose Valley dan op 966 te staan sal bring.

 

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?