Drie SA rekords in drie dae!

Talya Davidoff (26) wys die monofin wat sy gedra het vir een van die vryduik-items waarin sy ’n Suid-Afrikaanse rekord gebreek het. Foto: Schalk le Roux

Talya Davidoff (26) wys die monofin wat sy gedra het vir een van die vryduik-items waarin sy ’n Suid-Afrikaanse rekord gebreek het. Foto: Schalk le Roux

Oud-leerder van hier duik diepste sonder suurstof

Deur Liesel le Roux
’N OUD-LEERDER van die Laerskool van Reede en die Hoërskool Oudts­hoorn, Talya Davidoff (26), het die naweek drie Suid-Afrikaanse rekords tydens die Suid-Afrikaanse Vryduikkampioenskap in Port Elizabeth verbeter.

Vryduik (free diving) is ’n sportsoort waarin duikers in die diepsee en in swembaddens duik sonder die hulp van enige suurstoftoerusting.

Talya se prestasies die naweek be­teken onder meer dat sy nou die vrou is wat die diepste nog in Suid-Afri­kaanse water sonder suurstof kon duik!

Wat Talya se drie Suid-Afrikaanse rekords merkwaardig maak, is dat die naweek se byeenkoms die eerste vryduik-kampioenskap was waaraan sy nog deelgeneem het.

Talya se wendiepte in die see waar­deur sy die Suid-Afrikaanse vryduik-rekord gebreek het, was 37 meter, en die Suid-Afrikaanse re­kordafstande wat sy onder water in die swembad geduik het, was 169 meter in die Dynamic Monofin-afde­ling – dit kom neer op sowat twee minute sonder suur­stof onder water – en 150 meter in die Bifin-afdeling. Die vorige rekords in die afstande was onderskeidelik 157 meter en 133 meter.

Talya is veral opgewonde oor haar afstand in die monofin-afdeling en sê sy wil so gou as moontlik begin om internasionaal deel te neem, die 200 meter-merk te bereik en dalk nog eendag die wêreldrekord in die afde­ling te verbeter.

Talya het die week by haar ma, Belinda du Plessis, op Oudtshoorn ge­kuier saam met haar vriend, Massimo Tordoni. Sy het Massimo ver­lede jaar in die Maldives ontmoet waar hulle albei as duikinstrukteurs gewerk het.

“Hierdie manier van duik vra baie kopwerk,” sê Talya. “Dit is byvoorbeeld belangrik om nie te stres nie omdat jou liggaam baie suurstof gebruik as jy stres.

“Jou sukses in vryduik hang 10% af van jou liggaam en 90% van jou psige.”
Talya vertel sy was maar altyd betrokke by die see en watersport. Op skool het sy SWD-kleure verwerf in onderwaterhokkie, en sy het ook as skubaduikinstrukteur gekwalifiseer.

Sy het ’n graad in mariene biologie verwerf waarna sy in Gansbaai met die wit haaie gewerk het.
Sowat ’n jaar gelede het sy besluit om met vryduik te begin en so nog ’n vaardigheid aan te leer. “Ek kon gou agterkom dat ek dit kon doen en het toe al gesê ek gaan vanjaar aan die Suid-Afrikaanse Vryduikkampioenskap deelneem.”

Die intensiefste voorbereiding was egter die ses weke voor die kam­pioenskap in Kaapstad sê sy.
“Ek het baie druk op myself begin plaas toe ek besef het die Suid-Afri­kaanse rekords is binne my bereik.
“Met vryduik is jy in elk geval op jou eie – net jy, jou wetsuit, masker en vinne – en jy moet self presteer.”
Dit is nie ’n maklike sportsoort nie en een wat lewensgevaarlik kan wees, sê Talya.
“As jy ongemaklik voel met die diepte wat jy duik, móét jy omdraai,” sê Talya.
’n Mediese span is tydens kompetisies die hele tyd op die toneel en moniteer en toets die duikers gereeld en staan hulle by met suurstof.

Nou gaan sy egter eers ontspan. Sy en Massimo gaan in die buiteland vakansie hou. En dan gaan sy na borge begin soek sodat sy internasio­naal kan begin kompeteer.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?